Toespraak deur Cobus Dowry, Minister van Landbou in die Wes-Kaap - Plaaswerker Ontwikkelingskonferensie
Ek wil heel aan die begin my dank uitspreek teenoor die organiseerders van die Agri-Megaweek vir die uitnodiging om hier saam met julle te wees. Hierdie byeenkoms het reeds sy merk deeglik op die Suid-Afrikaanse Landboukalender gemaak.
Ek wil ook vir u dankie sê vir die rol wat u speel om nie net ons gevestigde produsente nie, maar ook opkomende boere en plaaswerkers te bemagtig met die gebeure tydens die week.
Ons wil hê dat u deeglik moet begryp dat u as plaaswerker 'n belangrike rol speel in die ekonomie van die Wes-Kaap en so wil ons ook hê dat daar dienooreenkomstig na u gekyk moet word. U moet verstaan dat hoe beter dit met die ekonomie gaan, hoe beter behoort dit met u te gaan.
Die Wes-Kaap lewer 'n bydrae van meer as 20% tot die totale landbouproduksie in Suid-Afrika. Die Wes-Kaap produseer tussen 55 en 60% van Suid-Afrika se totale landbou-uitvoere, en daarom is Landbou een van die sleutelareas wat 'n bydrae moet lewer tot groei en ontwikkeling in die Wes-Kaap.
As ons wil hê dat die ekonomie moet sterker raak dan beteken dit dat daar 'n paar goed is wat ons moet doen om dit te bewerkstellig. Ons moet onder andere sorg dat ons meer en beter produkte lewer wat kan meeding op die markte oorsee. Ons moet sorg dat ons water oordeelkundig gebruik. Ons moet sorg dat ons voldoen aan die vereistes ten opsigte van chemiese standaarde. Ons moet toesien dat ons administrasie van hoogstaande gehalte is en ons moet die beste bestuurspraktyke op elke vlak op die plaas, toepas.
Miskien besef u dit nie, maar u elkeen speel 'n baie belangrike rol in die aspekte waarna ek nou net verwys het en so speel elkeen van die ongeveer 202 949 werknemers op Wes-Kaapse plase 'n rol in die provinsie se ekonomie.
Plaaswerkeraangeleenthede is een van die hoofprioriteite van die Departement Landbou in die Wes-Kaap. Om gestalte te gee hieraan het ons reeds verskeie aksies geloods. Die eerste was die vestiging van 'n Subprogram: Plaaswerkerontwikkeling met die spesifieke doel om dienste, veral sosio-ekonomies dienste, wat aan die plaaswerkergemeenskap verskaf moet word, effektief te koördineer.
Om die subprogram in staat te stel om effektiewe uitvoering te gee aan die doel waarvoor dit geskep is, het ons geluister na die behoeftes wat deur die betrokkenes uitgespreek is. Ons het besluit dat daar 'n behoorlike proses van strategiese besinning moet wees wat uiteindelik uitgeloop het op 'n Strategiese Plan met duidelike doelwitte en aksieplanne wat deurgevoer moet word.
Hierdie program van ons bevat prakties uitvoerbare prosesse wat werklik die kwaliteit van lewe van plaaswerker sal verbeter. Seker die mees belangrikste element van die plan is dat ons gesê het dat u as plaaswerkers van die begin af ten volle deel daarvan moet wees. Ons wil hê dat u mede-eienaarskap van u eie toekoms moet opneem. Ons wil hê dat u saam met ons moet hoop hê vir die toekoms. Die President het vroeër die jaar tydens die opening van die parlement daarna verwys toe hy gesê het dat ons nou na die eerste tien jaar van die nuwe Suid-Afrika 'n nuwe seisoen van hoop binnegaan.
Wat ons in landbou in die Wes-Kaap doen, skakel in by die doelwitte van die groter Suid-Afrikaanse strewe wat al sover terug as die opstel van die Vryheidsmanifes kom, en verder vervat is in die Grondwet van die land. Omdat ons in die Wes-Kaap die regering se visie deel en glo in die kontrak wat ons met die mense gesluit het in die verkiesing, sal ons toesien dat die plaaswerkergemeenskap op elke terrein van u lewe ondersteun word.
Die boodskap wat ek aan u as plaaswerkers wil oordra is dat u 'n integrale deel is van landbou en ons wil seker maak dat elke werker wat by landbou betrokke is elke moontlike kans moet kry om hom of haar te bekwaam om die beste werker te wees. 'n Goed toegeruste werker kan 'n positiewe bydrae lewer tot die aktiwiteite op die plaas.
As Minister van Landbou is ek baie ernstig oor die welstand van alle plaaswerkers en die bevordering van plaaswerkers se lewensomstandighede, ook op die terrein van opleiding. Ek kan u ook die versekering gee dat die regering van die Wes-Kaap en die Departement van Landbou in sy geheel groot waarde heg aan die opleiding van werkers en ek weet ook dat die produsente van hierdie streek net soos ons wil hê dat u beter opgelei moet word. U weet dat hulle sê kennis is mag. Wanneer jy toegerus is met kennis kan jy soveel meer bydra tot die sukses van die boerdery waarby jy betrokke is. Ons wil graag opleiding nader bring aan u werkplek, daarom dat ons ook besluit het om n opleidingsentrum hier op Bredasdorp in te rig.
Ek is seker dat daar van u is wat nog nie gehoor het van "Ikapa Elihlumayo" en "'n Tuiste vir almal" nie. Dit is 'n strategie wat die regering het om die lewensomstandighede van al die mense van die Wes-Kaap te verbeter Die regering het tydens die verkiesing van 2004 'n kontrak met die mense van Suid-Afrika aangegaan om op elke gebied te veg teen werkloosheid, armoede en sosiale verval sodat u lewensomstandighede kan verbeter.
President Mbeki het gevra dat ons almal 'n poging moet aanwend om weg te beweeg van totale maatskaplike afhanklikheid na ekonomiese selfstandigheid. Dit beteken dat elkeen van ons moet probeer om ons beter te bekwaam sodat ons nie nodig het om van die staat afhanklik te wees nie. As ons dit doen sal ons armoede bestry, ongelykhede uitwis en sodoende die kwaliteit van lewe van al ons mense verbeter.
Die regering kan nie alleen veg teen armoede en die verval wat daar onder ons mense is nie. Ons het die hulp van ons boere en ander instansies nodig om u omstandighede te verbeter en daarom is ek dankbaar vir hierdie erkenning wat die produsente ook aan u as plaaswerkers bied deur hierdie konferensie aan te bied. Dit is belangrik dat u gebruik moet maak van die geleenthede wat aan u gebied word sodat u u kwaliteit van lewe kan verbeter.
Ons sien u as plaaswerkers ook as kliënte van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap, net soos wat boere ons kliënte is, en daarom is ons doelwit om al die dienste, veral sosio-ekonomies en polities, wat aan plaaswerkers verskaf moet word, effektief te koördineer.
Ons doel as Departement is primêr om landbou te laat groei en almal wat betrokke is, moet hulle deel bydra. Ons moet verstaan dat ons in landbou een groot familie is en dat ons mekaar nodig het. Die boer het u nodig maar u het ook die boer nodig en so het ons as regering vir u en die produsente nodig sodat ons kos op die tafel kan sit vir die mense van hierdie mooi land van ons.
Dit is maklik om 'n geleentheid soos hierdie te gebruik om modder te gooi en te kla. Ek wil egter die hoop uitspreek dat u almal sal deelneem aan hierdie konferensie en dat u hiervan sal gebruik maak om 'n positiewe bydrae te lewer wat tot voordeel van uself en Landbou sal wees.
Tel: 483 4930
Faks: 483 3890
Sel: 084 604 6701
