Mnr Redcliffe, ouers, leerders, oud-leerders en gewese onderwysers. Dit is my voorreg en eer om uitgenooi te word om deel te hê aan Dalrose Laerskool se 25ste verjaarsdagvieringe. Dit spreek vanself dat elkeen hier baie trots op die skool is.
Na my omvattende en leersame toer van die skool en terrein vanmiddag is daar geen twyfel in my gemoed dat elkeen hier net die hoogste agting vir die die skool het. Oral om my sien ek tekens van omgee en sorg. U kan waarlik trots wees op dit wat u vermag het om Dalrose die skool te maak wat dit is. Een van die dinge wat hierdie skool so spesiaal maak is juis dat julle gekies het om hierdie geleentheid te vier. Ek is seker dat hierdie samekoms dieper betekenis sal bring vir elkeen, vir elkeen wat gekoppel is aan hierdie skool en wat sal verseker dat die skool 'n spesiale leersentrum bly.
Dit is nie my doel om vandag oor onderwysbeleid of oor (vervelige) gegewens en syfers te praat nie. Dit is die provinsiale LUK vir Onderwys se werk. Ek is hier om saam in die feesvieringe te deel en sommer 'n paar gedagtes te deel, gedagte oor hoe elkeen hier 'n bydrae kan lewer en verder kan bou op die stewige fondamente sodat die wat in die 50ste verjaarsdagvieringe sal deel, dieselfde trots sal weerspieël as wat ons vandag sien.
Die Minister van Onderwys Naledi Pandor het in haar begrotingsrede verwys na die belangrike bydrae wat skoolbeheerrade kan lewer om prestasie, positiewe waardes en vaste beginsels in beide die skool én samelewing te bevorder. Soos u sekerlik weet is verreikende magte aan beheerrade gegee, magte wat in ons wetgewing vervat is. Dit is van uiterste belang dat beheerrade hierdie magte gebruik om te verseker dat parktyke en leeruitkomste in ooreenstemming is met die waardes en demokratiese beginsels wat ons as land leer ken het. As ek dit nie mis het nie, moes u ook onlangs verkiesings gehou het om 'n nuwe beheerraad te kies. Ek is seker dat van die nuwe of herkose lede hier teenwoordig is. Ek wil elkeen van u vandag geluk wens en terselfdertyd sterkte toewens met die gewigtige taak wat voorlê.
Hoewel Minister Pandor in die kol is met die sleutelrol wat beheerrade speel, is ek seker dat sy saam sal stem dat ouers, alumni (dis nou oud-leerders) en natuurlik die leerders self net so belangrik, indien nie belangriker is nie. Waarom sê ek so? Wel dikwels voel ons dat ons eintlik nie so spesiaal is nie. Baie dink dat as jy nie 'n Minister of 'celebrity' of musiekster is nie, is jou bydrae nie belangrik nie. (As jy nie voor op die verhoog staan nie, is jy nie belangrik nie.) Dit is natuurlik ver van die waarheid af. Elkeen van ons het 'n unieke bydrae te lewer en dikwels is daardie bydrae veel belangriker as die bydrae van diegene wat gereeld in die kollig is. Elkeen kán op 'n unieke manier 'n diens aan hierdie skool lewer en iets teruggee, 'n uur afstaan, help met 'n uitstappie, 'n mentor wees of selfs 'n klein (of groot) bydrae maak.
Toe ons met die geboorte van ons demokrasie 'n model vir skoolbeheerrade in plek gesit het, het ons doelbewus gekies vir 'n model wat die geleentheid skep vir ouers en gemeenskap om betrokke te wees by die opvoeding van ons kinders. Ongelukkig is nie al hierdie geleenthede ten volle ongin in ons armer skole nie en is die vlak van ouerbetrokkenheid nog glad nie na wense nie.
Die demokratiese model waarna ek verwys gaan in wese oor die bou van trots in ons skole. Dit is asof ons vir mekaar sê; Kyk hoe ver het ons gekom, kyk hoe het ons saam gestry teen onderdrukking, en kyk hoe het ons oorwin. Dit is iets om op trots te wees. (En al het van ons jonger leerders nie direk daaraan deel gehad nie, kan ons op ons ouers trots wees, want hulle het hulle eie lewe vir julle vryheid op die spel geplaas.) Dit is 'n trots waarop elkeen van ons kan bou. U sal saamstem dat dit hier nie 'n geval was van "teruggee" nie maar van "terugneem".
Ek veronderstel dat (as ek so rondom my kyk) hier heelwat mense is wat kinders was in die 1974-78 tydvak. Julle sal weet wat ek bedoel met "terugneem". (Is dit nie ietwat ironies dat ek hier voor u staan en in Afrikaans praat terwyl die Soweto-opstand juis ook 'n opstand oor Afrikaans in skole was nie? Dit lyk my ons het ook ons taal "teruggeneem" om nie meer as 'n instrument van verdrukking misbruik te word nie.) Dit was die generasie wat ons almal geleer het wat dit beteken om trots te wees op wie jy is en wat jy kan word en wat jy kan bereik. Dit is te danke aan hierdie geslag dat ons skole plekke geword het waar leerders kan leer oor demokratiese waardes, die beginsels van waardigheid, sosiale geregtigheid en natuurlik geslagsgelykheid. (Vir diegene wat nie weet wat sosiale geregtigheid beteken nie is dit dalk 'n goeie idee om 'n skooltaak daaroor te maak.)
Hierdie waardes en beginsels word ongelukkig nie vanself deel van ons samelewing nie, daarvoor moet ons ons moue oprol en 'n kultuur van ondersteuning en omgee met harde werk opbou. (As jong leerders van vandag dink dat die jeug van 30 jaar gelede al die werk afgehandel het, maak julle 'n groot fout. Julle het die voorreg om dit waarvoor gestry is 'n werklikheid te maak.) Deur saam te werk kan hierdie skool in 'n "burgerskaplaboratorium" omskep word waar waardes en beginsels van kleins af ingeprent word. Dit kan weer aan die volgende geslag oorgedra word.
Ek wil u graag vertel van 'n belangrike inisiatief; Dit is 'n inisiatief wat begin is deur Welcome Msomi wat Mmabatho, die isiZulu weergawe van Shakespeare se Macbeth geskryf het. Welcome het 'n program geloods wat hy Ziphathe ("gryp dit") noem. Ziphathe se visie in om 'n gemeenskap te skep wat ingelig, selfversorgend en bemagtig is om ontwikkeling te dryf vir almal wat daaraan wil deelneem, jonk en oud.
So wat op aarde het dit met hierdie skool te doen? sal u sekerlik vra. Wel Welcome het met 'n paar innoverende idees voorendag gekom, waarvan ek enkeles met u sal deel, idees wat toepaslik is vir hierdie skool en 'n bydrae kan lewer tot die toekomstige opbou van die skool en die skep van 'n volhoubare ondersteuningsgroep vir die skool.
Een van Welcome se idees gaan oor die bou van belangstelling in die skool deur te fokus op die mag van rolmodelle en en om rolmodelle nader aan die leerders te bring. Hy doen dit deur skole te help om "klaskamergallerye" te maak bestaande uit foto's van vorige leerders wat in dieselfde klas gesit het en op een of ander manier sukses behaal het. Om dit te vermag moet leerders en ouers 'n bietjie "navorsing" doen oor die geskiedenis van die skool en vorige leeders en onderwysers identifiseer wat belangrike bydraes gelewer het. Gegewe dat Uitenhage so 'n groot motorvervaardigingsindustrie het, is ek seker dat talle van die werkernemers hulle opvoeding hier begin het. Of miskien is daar 'n prominente lid in die kleinhandel of finansiële wêreld wat kon voortbou op die stewige fundament wat Dalrose help bou het. Hoeveel leerders het onderwysers geword? Die lys is nimmereindigend.
Al hierdie mense het die potensiaal om rolmodelle vir huidige leerders te word. Welcome se idee is dat deur die Ziphathe-netwerk fondse vir die skool ingesamel kan word. Foto's van rolmodelle word geneem en opgehang teen 'n "wall of Fame", vir almal om te sien. Hulle dra dan daagliks die boodskap oor dat harde werk sukses bring. Op hulle beurt kan hierdie helde / rolmodelle aktief by die skool betrek word.
Welcome het nog 'n idee: 'n gemeenskapsnavorsingsprojek waarvan die inkomste terugvloei na die skool. Die projek versamel en verpak marknavorsingsinligting van woonbuurt (township) verbruikers. Die navorsers is leerders, werklose mense en lede van plaaslike kerke en ander organisasies. Die inligting word aangestuur na gegradueerdes wat op hulle beurt die inligting verwerk en verslae saamstel. Dit skep die geleentheid om deel te hê aan betekenisvolle ekonomiese aktiwiteite en terug te ploeg in die gemeenskap en skool.
Ziphathe dra die goedkeuring van die Onderwysdepartement en sodoende kan skole, deur saam te werk, van hierdie inisiatiewe loods. Die Internet is 'n belangrike deel van die navorsing wat tot gevolg het dat skole soos julle s'n rekenaarvaardigheidsopleiding aan die gemeenskap kan bied. Julle het nie 'n rekenaarsentrum nie en hierdie kan 'n goeie geleentheid wees om een te begin. Juis daarom het ek SITA, die staatsinligtingstegnologieagentskap versoek om hulp. SITA tesame met twee privaat maatskappye, Pinnacle Micro en Sourcecom Technology Solutions, sal 25 rekenaars aan Dalrose verskaf. Dit behoort die rekenaarsentrum weer op die been te bring. SITA het ook ingestem om julle te help om die rekenaarsentrum in stand te hou, om sodoende te verseker dat dit 'n volhoubare inisiatief bly. Ons weet almal hoe belangrik rekenaaropleiding is en veral hoe belangrik dit is om op 'n jong ouderdom reeds te begin sodat skoolverlaters rekenaargeletterd is teen die tyd wanneer hulle die skool verlaat. Dit is dus belangrik dat ons 'n manier vind waardeur julle met tegniese ondersteuning voorsien kan word en die sentrum operasioneel bly. SITA sal saam met die skool werk om te verseker dat dit gebeur. Baie dankie SITA.
Ter afsluiting; ek wil elkeen hier graag bedank vir die hartlike en opvoedkundige tyd wat ons saam kon spandeer. Julle het julle harte oopgemaak vir my en ek kan nie genoeg dankie sê nie. Ek weet dat julle als het wat nodig is om Dalrose 'n energieke en belangrike deel van die gemeenskap te maak. Ek het inligting oor Welcome Msomi se initiatief aan mnr. Redcliff gegee en ek hoop dat dit elkeen sal inspireer, inspireer met die besef dat wat nodig is om dinge te laat gebeur binne elkeen van ons is. Meer nog, wanneer ons saamstaan, saamwerk as 'n span, as 'n gemeenskap kan niks of niemand ons keer nie.
