Ek kom so baie hier by u op Vuki dat die motor al vanself hier wil indraai as ek verby ry. Daar is 'n spreekwoord wat sê dat 'n mens eers 'n sak sout saam met iemand moet opeet voordat jy hom werklik ken. In hierdie bietjie meer as 'n jaar wat ek vir die eerste keer die mense van Vuki ontmoet het oor die probleme wat u ondervind het met die oorname van die plaas en die verkryging van produksiefinansiering om u in staat te stel om voort te gaan met die goeie werk wat u as 'n span toegewyde mense tot nou toe gelewer het, het ons 'n paar sakke sout saam opgeëet.
Die lang uitgerekte proses waarmee ons hier besig was, het vir my getoon dat u die wilskrag het om bo uit te kom. Ek glo dat ons almal baie geleer het en dat elkeen van ons hier sal wegstap met die wete dat ons nou beter toegerus is om soortgelyke probleme van meet af aan op die regte manier aan te pak. Ons het uiteindelik geseëvier as gevolg van die bereidwilligheid om voortdurend terug te gaan na die tekenbord toe totdat ons die gewensde resultate verkry het.
Ek wil dankie sê aan al die partye wat betrokke was in ons soeke na 'n positiewe uitslag sodat ons reg en geregtigheid kon laat geskied.
Gister was die herdenking van die vrystelling van die Kaapse slawe op 1 Desember 1838. Ek wil glo dat die verkryging van die plaas Vuki ook in 'n mate vir u as die begunstigdes van hierdie projek, werklike losmaak van u verknegting oor jare is.
Ons het vroëer die jaar in Junie 'n provinsiale en 'n nasionale grondberaad gehou wat beraadslaag het oor die regering se grondhervormingsprogram en die vennootskap wat nodig is om die pas van grondhervorming te versnel in 'n poging om gehoor te gee aan die strewe oor grond en die eienaarskap van grond, soos vervat in die vryheidsmanifes.
In ons strewe om dit te bereik wil die Regering van die Wes-Kaap 'n tuiste vir almal in ons provinsie skep. Ons wil hê dat elkeen wat hier woon 'n gelyke kans moet hê om vooruit te gaan en vir homself te werk en sy eie rykdom op te bou.
Die regering het elf jaar gelede begin om planne in werking te stel om uitvoering te bring aan die selfopgelegde taak om toe te sien dat die grond verdeel sal word tussen die wat dit besit en die wat 'n behoefte het om hulle eie grond te bewerk, maar nog nooit 'n geleentheid gehad het om dit te doen nie, en nog net vir ander moes werk en ander moes help om vooruit te gaan.
Ons het dit vir onsself gesê dit is vir altyd verby dat mense op die basis van hulle velkleur die eienaars van plase mag wees en dat ons die nodige geld en ander hulp moet voorsien om dit moontlik te maak vir elke Suid-Afrikaner om die eienaar van sy of haar stukkie grond te word, om daarop te woon, of om dit te bewerk in 'n poging om 'n bestaan daaruit te maak en ook in 'n poging om hongersnood en armoede te beveg.
Om te kan boer is nie 'n reg nie, dis 'n voorreg. Die besit van grond is wel 'n reg, maar wanneer ons hierdie twee, nl. boerdery en grondbesit bymekaar bring, word dit 'n onderneming wat met groot verantwoordelikheid aangepak moet word en daarom is dit vir ons in die Wes-Kaapse Departement van Landbou baie belangrik dat bemagtigingsprojekte geslaagd en volhoubaar moet wees.
U, die mense van hierdie Vuki plaasprojek, het oor die afgelope aantal jare getoon dat u die wil en die verantwoordelikheid het om op u eie inisiatief 'n sukses te maak en daarom is ons by die Departement van Landbou in die Wes-Kaap baie trots op u en assosieer ons graag met u en wil ons u bystaan om van hierdie projek 'n groter sukses te maak. Dit is ook dan daarom dat die Departement van Landbou aan u, R1 090 000 rand, beskikbaar gestel het om u te help in die opbou en vooruitgang van hierdie projek sodat die mense van Vuki verder bemagtig kan word.
Vandag is u hier om dankie te sê en ek weet u wou graag al u implemente wat u met die geld aangekoop het ten toon stel, maar daar het blykbaar administratiewe rompslomp in die pad gekom.
Ek wil ten slotte weer vir u gelukwens met die verkryging van die plaas en vir u alle sterkte toewens met u planne vorentoe. Hou aan om ons trots te maak op dit wat u doen. Hou aan om ons toe te laat om in al ons gesprekke na u te verwys as 'n voorbeeld van suksesvolle grondhervorming en 'n bevestiging dat die regering reg is om sy mense te bemagtig.
Sel: 084 604 6701
Tel: 483 4930
Faks: 483 3890
