Dit is 'n wonderlike voorreg vir my om deel van hierdie geleentheid vanaand te wees.
Die Afrikaanse Taalmuseum- en Monument is vir 'n baie lang tyd al 'n kenteken van die identiteit van alle Afrikaanssprekendes.
Die vryheid om onsself uit te druk is een van die wonderlike prestasies van ons nuwe demokrasie. Hierdie vryheid kan duidelik gesien word in die feit dat ons reeds elf amptelike tale het.
Vandag vier ons die 30ste herdenking van die ontstaan van die Afrikaanse Taalmuseum- en Monument. Terwyl die museum geopen is op 14 Augustus 1975, is die monument amptelik op 10 Oktober 1975 onthul. Hierdie erfeniskompleks is nie net ontwerp om die Afrikaanse taal te ontwikkel en te bewaar nie, maar ook die gebruik van die taal te bevorder. Daarom is Afrikaans vandag een van die tale wat se invloed verby die gebruik daarvan as 'n kommunikasie-werktuig strek. Afrikaans het op so 'n manier ontwikkel dat dit moontlik is om hoogs gesofistikeerde wetenskaplike konsepte en teorieë oor te dra.
Dit is egter vir my kommerwekkend dat ons net twee nasionale museums het wat aan die Afrikaans- en Engelssprekendes voorsien. Alhoewel hierdie twee museums hulle bes doen om ook aan die ander tale te voorsien, dink ek steeds nie dat ons genoeg doen nie.
Ons nuwe demokratiese grondwet waarborg gelykheid van waarde van al ons amptelike tale. Aan almal wat 'n mening wil uitlig en aanvoer dat ons taalbeleid nie kan werk nie, of dat dit te veel sal kos om te implementeer, wil ek verseker dat dit kan slaag, indien ons almal saamwerk om sukses te verseker.
Op internasionale front, poog organisasies soos UNESCO ook om taal en kulturele diversiteit te bevorder.
Die gebruik van 'n persoon se moedertaal word gesien as 'n universeel menslike reg. Die universele verklaring van kulturele diversiteit voer aan en waarborg dat alle persone die reg het om hulself uit te druk en om skeppend te wees, asook om hul werk te versprei in die taal van hul eie keuse.
Dit sluit in 'n vrye meningsuiting, meervoudige media, veeltaligheid, gelyke toegang tot kuns en ook tot wetenskaplike en tegnologiese kennis, asook in digitale vorm en die moontlikheid vir alle kulture om toegang te hê tot die vorm en verspreiding van uitdrukking.
Internasionale Moedertaaldag, nog een van UNESCO se programme, word ook in Suid-Afrika elke jaar op 21 Februarie gevier. Die program beoog om bedreigde tale en taalkundige diversiteit te bevorder en te beskerm as 'n noodsaaklike deel van die lewende erfenis van menswees. Mnr Koïchiro Matsuura, die direkteur-generaal van UNESCO, het hierdie jaar op Internasionale Moedertaaldag aangevoer dat taal diversiteit beskerm en om 'n moedertaal aan iemand te leer, van kardinale belang is vir die ontwikkeling wat elke individu se verbintenis aan sy of haar inheemse kultuur beskerm, terwyl dit ook verseker dat elke persoon in aanraking kan kom met ander kulture, en sodoende die voordeel kan trek uit 'n wêreld wat elke dag meer wisselwerkend word.
Die Europese Unie het byvoorbeeld begin met elf tale, tot op hede het dit vermeerder na 21. Behalwe vir die 400 vertalers wat in die permanente diens van die Unie is, is daar 'n groot aantal vryskutvertalers. Dit is benewens die feit dat vertalings slegs 0,8% van die totale begroting uitmaak. Dit werk min of meer uit op 2 tot 3 Euros per persoon per lidstaat.
Ook hier in Suid-Afrika mag ons nie die belangrikheid van taal en ons nasionale taalbeleid onderskat nie in terme van die rol wat dit speel om menseregte te bevorder.
As ons mense die reg voorbehou om te werk, speel, saam te verkeer, studeer en bid in die taal van hul keuse, sal hulle altyd aan die buitekant van die gemeenskap gelaat word en nooit hul plek kon inneem in 'n demokratiese gemeenskap nie.
Daarom wil ek mense aanmoedig om so veel tale as moontlik aan te leer, insluitend gebaretaal, asook Khoi en San tale, ons inheemse tale. Dit sal ons kommunikasie verbeter en ons almal sal 'n aandeel hê aan 'n Suid-Afrika wat werklik aan almal behoort.
Die missie van die Departement van Kuns en Kutuur sluit in die bevordering van die taalkundige diversiteit van ons land. As 'n hulpbron, bemagtig dit alle Suid-Afrikaners om deel te neem in die land se sosiale, politieke en ekonomiese lewe.
Ons departement het die Nasionale Taalbeleidraamwerk ingestel. Hierdie Raamwerk word gemik op die bevordering van die gelykwaardige gebruik van al elf tale en dit verseker regstelling vir die voorheen gemarginaliseerde inheemse tale.
Die beleid teiken alle staatstrukture en openbare instellings om sodoende die bevordering van effektiewe openbare administratiewe diens te verseker deur middel van behoorlike taalbestuur.
Nuwe inisiatiewe, wat in verskillende fases van finalisering is, sluit in die Telefoonvertolkingsdiens, wat deur Minister Jordan in Mei vanjaar geloods is.
Hierdie diens is die eerste van sy soort in Afrika, en ek is vol hoop dat dit die gaping tussen die Suid-Afrikaanse publiek en die staat sal oorbrug.
Die Hoyozela Taalbewusmaking veldtog sal lei tot uitgebreide bewusmaking van die staat se taalbeleid en die publiek se regte ten opsigte van hul taal.
Die regstelling van historiese onewewigtigheid en marginalisering is belangrike prioriteite van die staat. Aleenlik deur die profiel te verhoog en die gebruik van inheemse tale te bevorder, sal ons hulle in die hoofstroom van die Suid-Afrikaanse lewe kan inbring en die waardigheid van die verskillende taalgemeenskappe herstel.
Dit is dus logies om tot die gevolgtrekking te kom dat die bevordering van ons inheemse tale belangrik en kardinaal is in die proses van 'n ontwikkelende demokrasie.
Ons departement het die Transformasiefonds begin om die transformasie van nuwe perspektiewe ten opsigte van navorsingswerk, bewaring, preservering, versamelings, uitstallings en opvoedkundige programme in museums te bewerkstellig, en ook om 'n hernude gewaarwording en trots in ons erfenis aan te moedig.
Die befondsing sal nasionale museums die nodige hupstoot gee om gemeenskapsbetrokkenheid te verseker.
Die Afrikaanse Taalmuseum is ook betrokke by die proses. Die voorstelle wat deurgestuur is vanaf die museum, was om die invloed van Afrikaans op die ander amptelike tale te ondersoek en om Afrikaans te leer aan individue wat dit as 'n 2de of 3de taal sal gebruik.
Laasgenoemde projek word gedoen in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch.
Ons departement en die Afrikaanse Taalmuseum is besig met die proses om hierdie voorstelle te verfyn om uiteindelik geïmplementeer te word.
Ander programme wat die Afrikaanse Taalmuseum- en Monument gekarakteriseer het sedert sy bestaan, sluit onder andere in:
skrywersaande, waar skrywers die geleentheid kry om hul werk bekend te stel;
film-oggende, wanneer ou Afrikaanse films gewys word;
redenaarskompetisies wat daarop gemik is om die gebruik van Afrikaans te verbeter en te versprei;
Internasionale Moedertaaldag, wat daarop gemik is om veeltaligheid te bevorder;
Internasionale Museumdag, wat gemik is op die oorbrugging van verskillende kulture; asook
Erfenisdae, wanneer die nasie sy verlede en sy huidige prestasies onthou, en na die toekoms kyk.
Ek was baie bly om te hoor dat hierdie instelling 'n prominente rol gespeel het in die bekendstelling van hierdie jaar se tema vir Erfenisdag, naamlik die bevordering van ons inheemse kossoorte.
Dit was verblywend om te hoor dat kinders ingesluit is in hierdie tema. Ek sê dit omdat ek glo dat kinders die toekoms van hierdie land is. Om in hulle te belê is inderdaad 'n strategiese belegging.
Ek wil verder ook die bestuur van hierdie instelling gelukwens. Hulle werk baie hard om ons taal en letterkundige erfenis te bewaar. Ek noem dit omdat Afrikaans 'n Afrika taal is wat sy onstaan in Afrika het. Dit is 'n erfenis wat baie bygedra het tot die ontstaan van kennis, wat op sy beurt weer gelei het tot die ontwikkeling van hierdie land.
Ek wens u alles van die beste toe in julle toekomstige pogings om hierdie nasionale skat te bewaar en beskerm.
Ten laaste wil ek die Afrikaanse Taalmuseum- en Monument van harte gelukwens met die herdenking van hulle 30ste bestaansjaar. Ons Ministerie en departement is beslis trots om met die museum geassosieer te word.
Dankie.
