Geagte Vriende;
Een van die kragbronne van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie waaraan ons bou, is gelee in die ruimte wat dit bied aan elke taal, kultuur en godsdiens om te groei en gedy. Ons is vandag hier in Upington bymekaar om ons eenheid te vier deur vrye uiting te gee aan die ryk verskeidenheid van ons kultuur. Dit is juis die rykdom van ons verskeidenheid wat krag en diepte verleen aan die eenheid van ons nasie.
Deur ons nasionale Vryheidsdag hier in die Noord-Kaap te vier bring ons hulde aan 'n skitterende voorbeeld van nasie-bou en versoening; betoon ons eer aan die inwoners van die provinsie - mense wat ver weg van die media-kollig, deur gesamentlike optrede een van die ergste erfenisse van vernalating in ons land, te bowe kom; gee ons erkenning aan 'n streek met 'n besielende geskiedenis en 'n kultuurskat wat vir te lank buite sig gehou is.
Hierdie deel van ons land vertoon in sy samestelling 'n rykdom van verskeidenheid, amper gelyk aan die van die nasie. Hier word 'n nuwe kenmerkende identiteit geweef uit die samekoms van Griekwa en Tswana; Khoikhoi en Afrikaner; San en Xhosa; Keurling, Blanke, Indier en African.
Dwarsoor die land is gemeenskappe en navorsers besig om die verwronge beelde van ons geskiedenis waaraan ons vir so lank onderwerp is, reg te stel. Ons erfenis van honderde, selfs duisende, jare se beskawing word her-ontdek en in ere herstel. Die grootse verhale van die heldhaftige weerstand van trotse gemeenskappe om hul land, onafhanklikheid en waardigheid te beskerm, word nou opnuut vertel vir almal om te hoor.
Later vandag sal ons die visie van Abraham September herdenk - 'n man, gebore in slawerny, wat die besproeiing begin het waardeur hierdie streek so vrugbaar gemaak is. Op hierdie wyse sal ons help om erkenning te gee aan die kennis en vaardighede van gewone mans en vroue. Dit is daardie vaardighede en kennis wat oor die eeue hen die natuurlike bronne van ons land omskep het in die rykdom van die nasie.
Die soeke na die waarheid van ons verdeelde verlede, is 'n pynlike proses. Om te staan te kom voor die bittere kennis van die leed wat ons in die laaste jare van apartheid mekaar aangedoen het, is om as nasie die pyn weer te herleef. Maar die werksaamhede van die Waarheids- en Versoeningskommissie het vir ons bewys, meer as wat ons ooit kon gedink het, dat die waarheid helende krag besit. Ons moet van hierdie geleentheid gebruik maak om die Kommissie geluk te wens met die werk wat hulle verrig.
Ons is baie bemoedig deur die groeiende getal mense wat na vore kom om die Kommissie te help in sy pogings om die waarheid in verband met growwe skending van menseregte bloot te le; ons vertrou dat vele meer daardie voorbeeld sal volg.
Die grootste vergoeding wat aan die slagoffers gemaak kan word, en die kragtigste middel tot versoening, is die sukses wat ons sal bereik in die bou van 'n nuwe samelewing.
Die nuwe Grondwet, en die plek wat dit in die harte van ons mense ingeneem het, is ons beste versekering dat Suid-Afrika nooit weer sal toelaat dat sulke vreeslike dinge gebeur nie.
Vandag sal ons ook 'n eksemplaar van die Grondwet aan die Upington Veertien oorhandig. Hul lyding, as deel van 'n onderdrukte gemeenskap, vertel die verhaal van onnoembare getal Suid-Afrikaners, hier in die provinsie en dwarsoor die land.
Toe hul teregstelling afgewag het, en daar 'n internasionale veldtog was om hul lewens gespaar te kry, het die naam van Upington wereldwyd bekend geword. Vandag stuur Upington 'n ander boodskap aan die wereld uit: naamlik, dat dit 'n plek is waar mense hande gevat het in die poging om die droom van 'n beter lewe vir almal te verwerklik; om die ideale van ons Grondwet te verwesenlik. Die vryheid wat hulle ons gehelp het om te bereik, word vandag met groot vrug benut.
Dit is inderdaad die boodskap wat dwarsoor die land weerklink soos gemeenskappe skouer aan die wiel sit om in samewerking met hul demokraties-verkose Rade hul lewens te verbeter.
Landgenote;
Dit is reg dat ons nou, hier verby die halfpad-merk van ons eerste termyn van demokratiese regering, onsself afvra: Hoe het ons as nasie gevorder met die vervulling van daardie belofte om gesamentlik ons lewens te verbeter?
Ons kan met vertroue verklaar dat die fondamente van 'n beter lewe gele is. Die regering beskik oor die regte beleidsplanne om die uitdagings vor ons aan te pak. Stadig maar seker is die beleid besig om resultate op te lewer en 'n verskil te maak aan die wyse waarop mense lewe. As regering het ons ons program van aksie verskerp en aan onsself duidelike doelwitte vir die jaar en verder vorentoe gestel. U, die mense, kan en behoort ons toespreeklik te hou vir die bereiking van daardie doelwitte.
Dit verskaf ons ontsaglik veel trots en vreugde dat daar sedert 27 April 1997, aan miljoene mense vir die eerste keer toegang tot skoon water besorg is; tot elektrisiteit; behuisingstoelae; gratis gesondheidsorg; voedingsprogramme; en grondbesit. In die begroting wat die regering sopas aanvaar het, is nog meer meddele aan maatskaplike besteding toegese sodat hierdie programme in die loop van die komende jaar verder uitgebrei kan word.
In die verband, moet ons die regering van Noord-Kaap, sowel as die van ander provinsies, gelukwens met hul planne om die fondse wat deur die nasionale regering beskikbaar gestel is, aan te wend vir versnelde lewering van basiese behoeftes.
Verder verdien die Polisie van hierdie provinsie ons gelukwensinge vir die wyse waarop hul die grootste misdaad-sindikaat in die provinsie aan die kaak gestel het.
Dit is deurbrake soos die - hier en elders - wat ons help om stadig maar seker die geveg teen misdaad te wen. Die groter middele wat die regering beskikbaar stel vir die versterking van die kriminele regsplegingstelsel, sal verder daartoe bydra. So ook die hoe-digtheid misdaadbekamping-veldtog waaraan die Polisie en 10 000 lede van di Nasionale Weermag tans deelneem.
Hierdie welslae is die gevolg van toegewyde diens deur ons Polisie - die oorgrote meerderheid waarvan mans en vrouens is met 'n onwrikbare verbintenis tot die veiligheid en sekerheid van ons mense. Hulle moet dikwels onder baie moeilike en gevaarlike omstandighede werk. En ons doen 'n beroep om elke gemeenskap en alle gedeeltes van ons samelewing om hulle met by te staan in die stryd teen misdaad en misdadigers.
Blywende en lang-termyn oplossings vir die misdaad-probleem sal voortvloei uit verbeterings in lewensomstandighede en die uitwissing van armoede. Op sy beurt, hang dit weer af van die sukses wat ons met ons ekonomiese beleid behaal.
Alles dui daarop dat ons goed op spoor is. Die verstarde ekonomie wat ons ge-erf het, is nou weer op die pad van volgehoue groei as gevolg van die toename in beleggings, produktiwiteit en uitvoere.
Die provinsies het die uitdaging aanvaar om binne die nasionale raamwerk hul eie planne vir groei en ontwikkeling uit te werk, sodat hul in staat is om die besondere behoeftes van hul streke aan te spreek, en terseldertyd by te dra tot die ekonomiese sukses van die land.
Ons het groot bewondering vir die doelgerigtheid waarmee hierdie provinsie wee soek om sy tradisionele afhanklikheid van die landbou en die mynwese, af te skud deur uit te brei na vervaardiging en toerisme. 'n Vennootskap met die privaatsektor om meer fabrieke op te reg om waarde toe te voeg tot die mynbou-produkte, kan lei tot vermeerderde werkskepping in die provinsie. En dit sal bydra tot die bervordering van uitvoere - en van die kern-oogmerke van ons ekonomiese plan.
Maak nie saak watter goeie beleid 'n regering het nie. Sonder die daadwerklike deelname van ieder en elk van ons, kan daardie planne nie slaag nie. Dit is slegs wanneer gemeenskappe betrokke raak dat ons demokrasie 'n lewende werklikheid en 'n krag vir verandering en omvorming sal word; gemeenskappe wat hul verkose verteenwoordigers tot verantwoording roep; wat hul behoeftes en wense uitspreek; wat hul vorstelle tot verbetering van sake op die tafel le; en wat hul burgerlike verpligting nakom deur hul dienste te betaal.
Ons gedeelde visie van 'n nie-rassige samelewing sal verwesenlik word, deur bewustelike optredes aan die kant van gemeenskappe en rade om die rasse-karakter van ons stede en dorpe af te breek. Daardeur sal hulle die ware aard van ons reenboog-nasie weerspieel.
Die positiewe reaksie op die hernude Masakhane veldtog, is 'n bemoedigende teken dat gemeenskappe en rade inderdaad besig is om hande te vat in die poging om ons verskeurde samelewing te herstel.
