Burgemeesteres van Bergrivier Mev Smit
Raadslede van die Munisipaliteit
Verteenwoordigers van SAPS, Justisie, Gesondheid, Opvoedkunde
Hoofde van Gevangenisse en Lede van die Departement
Verteenwoordigers van Gemeenskapsorganisasies en Godsdienstige Organisasies
Genooide Gaste,
Families van Gevangenes en Gevangenes
Afrikaans is nie my moedertaal nie, maar dis belangrik dat ek u in die taal waarmee u gemaklik is, toespreek. Dit is die Boland wat daartoe bygedra het dat die Weskaap nou onder ANC-regering staan. Dit is die Boland wat ons regering bystaan om die probleme van al ons mense aan te pak. Dit is die Boland wat ons van helde in ons gemeenskappe voorsien. Daar is talle van ons helde in sport, die sakewêreld, politiek, in die regering, in ons kerke - oral in die lewe vind ons helde - en as jy in hul geskiedenis teruggaan, sal jy uitvind dat hul herkoms in die Boland is. Daar is Breyton Paulse, daar is Chris Nissen, daar is Cecil Esau, daar is Ashwin Willemse en talle andere.
Hulle mag nou in die groot stede woon, maar hulle kom van die Boland. Hulle is mense soos julle. Hulle is die trots van die Boland en hulle hoort hier by julle. Daarom, is ek bly om hier te wees.
Ek is hier om u die geleentheid te gee om u regering toe te spreek. Ek is hier om na u te luister. Ek is hier om te kyk of ek u kan help om u lewe beter en makliker kan maak. Ek is hier om ons beloftes, as regering, aan u na te kom. Ek is hier om te hoor wat u probleme is en, gesamentlik, te kyk hoe ons dit kan aanpak. Ek mag nie al die antwoorde vir u het nie, maar ons sal probeer, saam met die burgermeesteres en andere, om antwoorde aan u te verskaf. Daar waar ons nie antwoorde kan gee nie, sal ons dit aan die relevante departement oorhandig om antwoorde en oplossings te verskaf.
Een van die ander hoofredes waarom ek hier is, is om u te nooi om saam met die Departement van Korrektiewe Dienste 'n vennootskap aan te gaan. Ons wil u deelmaak van die werk wat ons doen. Ons wil seker maak dat u verstaan dat gevangenes, ten spuite van hul misdade, nog altyd deel van ons gemeenskappe uitmaak. Hulle het foute begaan. Hulle het van ons, in ons gemeenskappe seergemaak. Hulle het ons trane laat stort. Hulle het leed aan ons kinders gedoen. En hulle moet daarvoor boet. Hulle moet hul tyd in die gevangenis uitdien. Maar ons kan hulle nooit verwerp nie. Ons kan nooit ons rug op hulle draai nie. Ten spyte van die foute wat hulle in die lewe begaan het, moet ons hulle wys dat daar nog altyd 'n kans is om te verander en om hul lewens te verbeter. Ons moet hulle hoop gee. Ons moet hulle wys dat daar goed in almal van ons is. Al wat hulle moet doen is om te erken dat hulle fouteer het. Hulle moet berou en om verskoning vra en sê dat hulle die straf wat deur die hof opgelê is, aanvaar en sal uitdien.
Ons moet hulle wys dat ons menslik is; dat soos ons Vader, sal ons hulle nie veroordeel nie. Ons moet aan hulle sê dat ons hulle graag terug in ons gemeenskappe wil hê, maar dat hulle eers aan ons moet bewys dat hulle dit verdien om terug te kom. Hulle moet rehabiliteer. Hulle moet regmaak daar waar hulle verbrou het. Eers dank kan ons ons deure oopmaak.
My beroep aan u vandag is om ons te help sodat ons u kan help. Daar is te veel misdaad in ons gemeenskappe. Daar is te veel moorde, verkragtings, kinder-molesterings, rooftogte, vroue-mishandeling en bendes in ons gemeenskappe. Ons moet dit tot 'n einde bring en dit kan in ons huise begin. Dit begin by ons. Dit begin daar waar ons woon. Elkeen van ons kan tot 'n beter lewe bydra.
Ons moet seker maak dat wanneer hulle uit die gevangenis kom, dat hulle nie na misdaad teruggaan nie.
Dit help nie dat ons mense na hulle uitreik nie en dan gaan hulle met hul misdaad voort. As dit gebeur, sal ons hulle so lank moontlik binne hou. Ons sal seker maak dat hulle nie parool kry nie want ons kan nie toelaat dat hulle verdere kwaad in in ons gemeenskappe doen nie.
Dit is nie nodig nie. Laat ons saamstaan - die kerke, organisasies, sportklubs, gemeenskappe- en veg teen dit wat ons agteruit hou.
As Korrektiwe Dienste, wil ons bydra tot veranderinge in jul lewens. Ons wil na julle uitreik. As u Sondagaand na 'n program op TV gekyk het, sal jy gesien het dat baie mense sê dat ons nog gevangenisse moet bou, dat die doodstraf moet terugkom, dat ons gevangenes langer in die tronke moet hou, dat ons hulle nie drie male moet voed nie. Maar dit sal nie ons probleme oplos nie. Dit sal net ons probleme vererger.
Ons moet liewers help om hulle te verander sodat hulle goeie burgers kan word. Binne Korrektiwe Dienste wil ons hulle wys dat hulle menslik is en dat ons seker wil maak dat hulle wel kan verander. Maar ons het u hulp nodig. Reik uit asseblief. Kom nader.
Daar is nou die geleentheid vir gemeenskappe om in Paroolrade betrokke te raak. Ons skep 52 Paroolrade dwarsoor die land. Die voorsitters van Paroolrade kom van ons gemeenskappe en nog twee gemeenskapslede sal op die Rade dien. Dit gee ons gemeenskappe die kans om te besluit of 'n gevangene vir parool kwalifiseer en onder watter voorwaardes. Raak betrokke by ons paroolrade sodat u kan seker maak dat net mense wat rehabiliteer, vrygelaat word voordat hul vonnisse uitgedien is. Dit gee hulle die kans om te vergoed vir dat wat hulle verkeerd gedoen het.
Ek wil nou kortliks op die Departement se Witskrif raak. Dit is die nuwe beleidsrigting van Korrektiewe Dienste. Deur die Witkskrif, wil ons gemeenskappe betrokke in ons werk kry.
Wees gewaarsku. Ons sal jou nie binne Korrektiewe Dienste duld nie. Jy sal wel bewus wees dat ons net verlede week 'n voormalige Streekskommissaris afgedank het. Die saak het lank geneem. Hy het gedink hy kan ons uitoorlê. Hy het 'n duur prys daarvoor betaal. En ons is nie klaar met hom nie. Hy sit nou sonder werk maar ons gaan voort met 'n kriminele saak van bedrog teen hom. Dis sulke mense wat die naam van Korrektiewe Dienste beswader. Dis sulke mense wat nie in die diens behoort nie. Hulle gee ons almal 'n slegte naam maar ons sal van hulle ontslae raak en met mense wat wil werk, vervang. Daar is baie mense in ons gemeenskappe sonder werk wat bereid sal wees om met trots te dien. Ons sal jou uitskop en met goeie mense vervang.
In gisteraand se koerant is daar verskillende aantuigings teen Malmesbury gemaak. Dit is nie 'n goeie storie nie. Ek wil weet wat daar aangaan. Die Area Kommissaris, die hoof van die sentrum en die streekkantoor moet my kom sê wat daar aangaan. As daar enige waarheid in die berigte is, dan moet die skuldiges weet dat jou dae getel is. Ons gaan jou uitvind. Jy gee ons 'n slegte naam. Jy maak Korrektiewe Dienste seer. Jy laat ons bloei.
Ek wil nou graag u die kans gee om met my, die Adjunkminister en andere hiervoor te praat. Deel met ons hoe jy voel. Sê vir ons wat ons moet doen. En dan wil ons graag sien hoe ons met u kan saamwerk.
Ek dank u almal.
