In die meeste lande en veral Europa word die dag as't ware gevier omdat tering in daardie lande feitlik uitgewis is. In ons land en veral in die Wes-Kaap, dien dit vir gesondheidspersoneel as 'n nuwe aansporing om een van ons grootste gesondheidsgevare met nog groter ywer die hoof te bied.
Hierdie boodskap is so baie belangrik dat ek dit kortliks in Afrikaans herhaal. Ek het gesê dis tyd die mense van die Wes-Kaap groter verantwoordelikheid aan die dag lê wanneer dit om tering gaan. Dit is juis onverantwoordelike optrede wat veroorsaak dat ons elke jaar duisende nuwe grafte moet grawe. En dit hoef nooit 'n dodelike siekte te wees nie. Dit is behandelbaar.
Hier in sekere Wes-Kaapse dorpe is die aantal teringgevalle kommerwekkend hoog en neem dit jaarliks toe. Ek het pas 'n toer van verskeie dele van ons mooi provinsie gemaak waar ek vasgestel het wat die toedrag van sake op die verskillende dorpe is. Op Clanwilliam het 1 405 uit elke 100 000 van die bevolking tering in 2001 gehad. 'n Jaar later het 1 622 uit elke 100 000 mense TB gehad. En moenie dink dat dit anders daar is as hier op Stellenbosch nie.
Die boodskap aan al ons inwoners is dat wanneer iemand 'n knaende hoes ontwikkel moet daar dadelik na 'n kliniek gegaan word. Die behandelingsproses strek oor 6 tot 8 maande, maar as die herstelprogram nie voltooi word nie, kan 'n terugslag beleef word en dan word die siekte weer van vooraf versprei. Baie mense voltooi nie die program nie, omdat hulle reeds na omtrent 'n maand nie meer siek voel nie en dan met medikasie ophou. Maar dit beteken nie dat jy gesond is nie. En wat dit nog erger maak is dat die sieke se kanse op genesing verminder.
Tel: 483 5740
