Die onderwys het my nog altyd na aan die hart gelê. Ek verwelkom dus die geleentheid om hier, by die aanvang van die Kongres, enkele perspektiewe met u te deel. Dit is ook heerlik om soveel ou vriende te sien.
Graag wens ek u geluk met die inisiatief om hierdie Kongres te reël. Dit is tydig en nodig.
Onderwys, soos baie ander lewensterreine, staan in die teken van diepliggende verandering. Die belange wat vanaand hier verteenwoordig is, staan voor 'n groot uitdaging. U wil op 'n sinvolle wyse deel word en help rigting gee aan hierdie proses - anders was u nie hier nie. Daarvoor is nodig deeglike beplanning, ooreenkoms oor gemeenskaplike doelwitte en dan die daarstelling van samewerkingstrukture en meganismes asook die duidelike formulering van strategië om die gestelde doelwitte te kan bereik.
Tot dusver het alle belangegroepe hier verteenwoordig kosbare bydraes gelewer om verandering in die onderwys redelikerwys binne die prinsipiële raamwerk van die Grondwet te hou en te verseker dat dit wat reeds opgebou is, nie onherstelbare skade ly nie. Ek hoop dat hierdie Kongres verdere stimulus sal gee aan gefundeerde en berekende optrede en aksieplanne.
Ek wil u ook gelukwens met die inklusiwiteit van die Kongres. Dit is 'n belangrike mylpaal dat u daarin gelsaag het om die verdelings van die verlede te oorbrug. Die feit dat hierdie 'n Afrikaanse Onderwyskongres is en dat almal vir wie Afrikaans in die onderwys belangrik is hier kragte saamsnoer, is van groot betekenis. Slegs as ons daarin slaag om - met betrekking tot taal, kultuur en onderwysbelange - uit te styg bo politieke verskille en ou verdelings op grond van kleur, kerkverband en kompetisie tussen kultuurorganisasies, slegs dan sal u die belange wat almal met mekaar deel effektief kan bevorder.
Ek wil graag enkele perspektiewe met u deel, nie in die gess van voorskriftelikheid nie, maar in 'n eerlike poging om 'n bydrae te lewer.
Ek glo dat u besprekings en beraadslagings binne die raamwerk van die heersende werklikheid hanteer moet word. Dit sout futiel wees om terug te gryp na ou bedelings of om te probeer om bedelings, wat irrelevant geword het, te laat herleef. Dis verby met die ou Suid-Afrika. Die nuwe Suid-Afrika is nou die werklikheid.
Duidelike beleidsraamwerke is reeds vir toekomstige onderwysontwikkeling in Suid-Afrika neergelê. In hoofsaak vind ons dit in die Grondwet se bepalings wat van onderwysbelang is en in die Witskrif oor Onderwys en Opleiding. Die HOP, wat ook in die Witskrif op 'n besondere wyse beleidsmatig vergestalt word, is eweneens van groot belang.
Die breë raamwerke is dus reeds deur die Regering van Nasionale Eenheid, na 'n proses van wye raadpleging, daargestel. Binne hierdie gegewe raamwerk staan u voor die uitdaging om 'n bepaalde inhoud te gee aan breë beleid, om dit te verbesonder en om dan strategië te bedink wat beleid in praktyk sal omskep. Dit is nodig, want die bestaande breë beleidsraamwerke kan verskillend vertolk word. Aansienlike verdere besinninbg en beplanning word gevra, alvorens daar werklik 'n geloofwaardige en aanvaarbare onderwysvoorsieningstelsel gevestig kan word.
Dit is verder 'n erkende feit dat daar meningsverskil betstaan rondom die vertolking van onderwysregte in Suid-Afrika. Daar is steeds diepliggende debat rondom die bedoeling van bepaalde artikels in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.
Midde in die debat staan daardie artikels wat verband hou met agterstande en regstelling, met eenheid en verskeidenheid. Ek hoef maar net te verwys na belangwekkende ondersoeke wat reeds in volle gang is - die Kommissie wat Ondersoek na Hoër Onderwys in Suid-Afrika en die Hersiening komitee wat die beheer, organisasie, finansiering en eienaarskap van skole in Suid-Afrika moet ondersoek.
Hierdie Kongres is 'n unieke en tydige geleentheid om 'n gemeenskaplike grondslag te vind oor hoe hierdie ondersoeke benader moet word. Daar moet weë geviond word om oortuigende, goed gefundeerde en opvoedkundige verantwoordbare insette te lewer. U moet hierdie ondersoeke benut vir kreatiewe en pro-aktiewe insette en u moet waak teen blote reaktiewe en defensiewe optrede.
Dit is belangrik dat daar 'n bereidwilligheid sal wees om na uiteenlopende standpunte te luister, om argumente op 'n logiese en beredeneerde wyse teen mekaar op te weeg en 'n openheid te openbaar vir nuwe insigte. Indien nodig, moet u bereid wees om frontverskuiwings in denke te maak, aan die hand van die inligting en besprekings wat tydens die Kongres na vore mag kom. Dit alles moet egter steeds getoets word aan die eise van die werklikhede van ons land en die grondbeginsels van die opvoedkunde wat universeel is.
U sal ook moet waak teen die soeke na kitsoplossings. Geen kongres kan kitsformules optower nie. Die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing, ook op onderwysgebied, vereis deeglike beplanning, oriëntering en harde werk. By 'n kongres soos hierdie kan u riglyne neerlê, 'n toekomsvisie ontwikkel en grondslae lê vir voorstelle met betrekking tot die nuwe onderwysbedeling. Dit sal egter opgevolg moet word deur spanwerk in kleiner kringe, gerig op gedetaileerde voorstelle en strategieë.
As ons dan vra na riglyne, uitgangspunte en gronslae vir die beplanning van 'n toekomsvisie, dan wil ek enkele gesigspunte uitlig.
Eerstens moet aanvaar word dat onderwys in die toekoms groter betrokkenheid en selfs opofferings van almal gaan vra - opofferings in terme van toegewings en aanpassings in belang van 'n gemeenskaplike doel; geldelike opofferings.
Die Staat kan nie meer alleen die verantwoordelikheid neem vir onderwysvoorsiening vir 'n immergroeiende bevolking op alle vlakke in Suid-Afrika nie. Die Regering het nie die middele daartoe nie. As senior vennoot moet hy die raamwerk verskaf en hulpbronne op 'n gegewe grondslag beskikbaar stel. Daaraan sal egter toegevoeg moet word. Onderwys moet dus 'n vennotskapsaak in Suid-Afrika word. Elke individu en elke verteenwoordigende organisasie op plaaslike, streeks- en nasionale vlak moet uit alle samelewingsverbande by die onderwysvoorsiening in Suid-Afrika betrokke raak. Dit sluit nie net onderwys en kultuur-organisasies in nie. Kerke en die privaatsektor moet by voorbeeld ook betrek word.
Tweedens moet onderwys gedepolitiseer word. Dit moet omskep word tot a saambindende krag. Dit durf nie 'n verdelende mag in Suid-Afrika wees nie.
Daarmee sê ek nie dat onderwys kultuurloos en karakterloos moet wees nie; dat onderwys 'n instrument tot gedwonge uniformiteit moet word nie. Die reg tot moedertaal onderwys, tot kultuurgebonde en religieus gefundeerde onderwys is 'n sleutelfaktor in ons soeke na stabiliteit en die effektiewe beskerming van minderhede.
Onderwys is seker die belangrikste instrument wat geborgenheid vir die verskillende kultuur groeperinge in die Suid-Afrikaanse samelewing kan bring; wat die toekoms vir ons kinders en vir ons mense in den brede kan ontsluit en wat hulle in staat kan stel om binne eie samelewingsverbande geborge te voel.
Dit mag egter nie 'n instrument word om verdeeldheid en tweespalt te saai nie. Dit moet ook die jeug opvoed om in die wyer kring van die Suid-Afrikaanse nasie hulle plek in te neem. Juis daarom het die verskillende rolspelers in die onderwys 'n uitdagende taak en moet almal wat by die onderwys betrokke is, met erkenning van die beginsel van soewereiniteit in eie kring, in 'n gees van samewerking uitreik na mekaar, brue bou, vooroordeel afbreek en versoening bevorder.
Derdens moet ons ontsnap aan geykte denke - moet ons nuut dink en bereid wees om onderwys meer relevant te maak.
Reeds in die RGN-ondersoek is dit beklemtoon dat die wêreld ons klaskamer moet word en dat onderwys en leer 'n lewenslange proses moet wees. 'n Belangrike nuwe dimensie wat in die afgelope jaar of twee sterk na vore getree het, is die feit dat daar ook 'n nouer integrering moet wees tussen onderwys en opleiding. Daar moet 'n nouer verband getrek word tussen die wêreld van die formele onderwys en die wêreld van werk.
Dit is natuurlike makliker gesê as gedaan. Ons durf ons egter nie laat afskrik deur die ingewikkeldheid van die probleem nie.
Suid-Afrika worstel met grootskaalse werkloosheid en ook gevolglike armoede. Die onderwys moet, saam met ander sektore, die sleutel verskaf tot 'n meer voorspoedige en vooruitstrewende Suid-Afrikaanse samelewing. Maksimale indiensneming en die ontwikkeling van 'n vinnig groeiende ekonomie moet sterk in die fokus van u besinning by hierdie Kongres geplaas word.
Opleiding in werkverband moet 'n sleutelrol in onderwys-voorsiening en opleiding in Suid-Afrika speel. Daar sal brue gebou moet word tussen die leerplek en die werkplek. Suid-Afrika is ryk aan hulpbronne, ook menslike hulpbronne. Dit moet egter ontwikkel word op so 'n wyse dat dit die potensiaal van hierdie mooi land ten volle kan ontsluit.
Vierdens is dit nodig dat die probleem van uitermate hoë verwagtinge op feitlik elke lewensterrein, ook ten opsigte van onderwys, effektief bestuur moet word.
Die vestiging van 'n nuwe staatkundige bedeling het vir baie mense in Suid-Afrika nuwe hoop ontsluit, maar ook in baie gevalle onrealistiewe verwagtinge geskep. Onvervulde verwagtinge kan lei tot ontnugtering wat maklik kan oorkook in frustrasie en destabilisering. Dit is daarom van besondere belang dat gesonde realisme vanuit hierdie Kongres saluitstraal ten opsigte van dit wat moontlik is.
Die Heropbou en Ontwikkelingsproses kan nie oornag plaasvind nie. Dit is maar die eerste van baie 5 jaar-planne in die nuwe Suid-Afrika. In Maleisië is hulle nou besig met hule sewende 5 jaar plan en praat hulle van Visie 2020. Suid-Afrika sal noodwendig dieselfde benadering moet ontwikkel.
Ons ekonomiese dravermoë is van so 'n aard, dat onderwys se aandeel uit die Skatkis, persentasiegewys gesproke, kwalik verhoog kan word. Die land se vraagstukke is van so 'n aard dat daar 'n geweldige aanspraak is op fondse uit die Staatskas. Die onderwys sal noodwendig moet meeding met ander prioriteite.
Die luukse en oordaad in die onderwys, wat nie regtig saakmakend is nie, sal dus opgeoffer moet word. Dit verg indringende besinning deur hierdie Kongres oor wat saakmakend is en wat nie; oor wat van blywende belang vir die onderwys is en wat nie. Onderwys sal moet versober.
Daar sal ook ernstig gestreef moet word na metodes om te verseker dat geld wat in die onderwys ingepomp word inderwaarheid, volgens die beginsel van hersirkulering, 'n golf-effek sal hê en nie in die stelsel "verteer" sal word nie. Dwarsdeur die wêreld is die begrip van "recycling of money" vandag algemene gebruikstaal. Suid-Afrika sal ook die punt moet bereik waar geld vir die onderwys 'n selfgenererende effek het en nie telkens in die sand verdwyn nie. Daar sal dus met nuwe oë na onderwysbeurse en opleidingsgelde gekyk moet word. Elke individu wat die vrugte van 'n goeie verdienste van sy of haar onderwys pluk, sal iets aan die onderwys moet teruggee om weer andere te help.
Vyfdens is dit nodig dat onderwys effektief bestuur sal word. Ek is terdeë daarvan bewus dat daar groot kommer heers oor die erodering van kundigheid op die hoër bestuursvlakke van die onderwys. Dit is enersyds so, vanweë 'n eensydige en ondeurdagte toepassing van regstellende maatreëls in bepaalde gevalle. Andersyds baar die onttrekkingsindroom wat duidelik binne die onderwys en die Staatsdiens kenbaar geword het, groot kommer. Dit is die gevolg van 'n groeiende persepsie by baie onderwysadministrateurs en emptenare dat hulle loopbaanvooruitsigte swak is omdat hulle kleur nie reg is nie. Die gevolglike verlies van kundigheid skep tans 'n groot vakuum. Die Afrikaanse Onderwyskongres moet na beide hierdie aspekte kyk en oor oplossings besin. Suid-Afrika kan nie hierdie verlies aan kundigheid bekostig nie.
Beide as Adjunkpresident en as politieke leier maak ek dit tans my erns om te verseker dat sogenaamde regstellende aksie nie ontaard in 'n nuwe vorm van rassediskriminasie nie. Regstelling is nodig en ek is verbind daartoe, maar dan op 'n wyse wat nie tot onreg lei nie. Suid-Afrika kan nie bekostig dat meriete, harde werk, prestasie en ervaring nie erken word nie. Balans is nodig en word tewens voorgeskryf deur ons Grondwet en Handves. Ek vra u om my hand en die van andere te sterk oor hierdie saak.
Ek wil afsluit deur van die partikuliere van die onderwys na die meer oorhoofse vraagstuk van die plek van minderhede in ons gemeenskap te beweeg.
Daar is talle voorbeelde in die geskiedenis van tragiese konflikte wat ontketen is deur die miskenning van die regte van minderhede. Op hierdie oomblik kan feitlik elke konfliksituasie in die wêreld daartoe herlei word. Dit is 'n les wat daagliks grafies en grusaam op ons TV-skerms gedemonstreer word - van Bosnië tot in Burundi.
In die nuwe Suid-Afrika durf ons hierdie les nie miskyk nie. Die noodsaak vir die effektiewe beskerming van minderhede het niks met apartheid of rassisme te doen nie. Dit het alles met kulturele, taal en religieuse minderhede te doen - en daarom ook met onderwys wat nie ontkoppel kan word van taal, kultuur en geloofsoortuiging nie.
In hierdie opsig is dit belangrik om te begryp dat demokrasie in multi-kulturele samelewings nie die simplistiese oorheersing deur die meerderheid beteken nie. Ware demokrasie vereis dat regeer word met die instemming van die wat regeer word. Dit impliseer duidelike beperkings op die reg van die meerderheid om met daardie sake in te meng, wat na regte oorgelaat behoort te word aan die self-beskikking van gemeenskappe - hetsy kultureel gedefinieer of geografies, in terme van provinsies of selfs dorpsgebiede!
Hierdie basiese waarhede word reeds erken in ons Grondwet. Devolusie van mag op 'n geografiese basis is stewig gevestig.
Die Grondwet gee verder erkenning dat elke persoon die reg het om die taal van sy of haar keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van sy of haar keuse deel te neem"
en om waar dit uitvoerbaar is, onderwys-instellings gebasseer op 'n gemeenskaplike kultuur, taal of godsdiens tot stand te bring, met dien verstande dat daar geen diskriminasie op grond van ras mag wees nie."
Die onveranderbare grondwetlike beginsels van die Grondwet bepaal verder die volgende:
Die verskeidenheid van taal en kultuur moet erken en beskerm word, en omstandighede vir die bevordering daarvan moet aangemoedig word."
Nog meer relevant ten opsigte van die regte van minderheidsgroepe is die volgende beginsel:
Kollektiewe selfbeskikkingsregte vir die stigting, samevoeging en instandhouding van organe van die burgerlike gemeenskap, met inbegrip van linguistiese, kulturele en godsdienstige verenigings, moet op 'n nie-diskriminerende grondslag van vrye assosiasie erken en beskerm word."
Die reg van die onderskeie kulturele minderhede in Suid-Afrika tot 'n hoë mate van selfbeskikking, word egter die beste weerspieël in beginsel 34 wat duidelike en spesifieke voorsiening maak vir 'n konsep van die reg op selfbeskikking deur enige gemeenskap wat 'n gemeenskaplike kutlurele en taalkerfenis deel, hetsy in 'n territoriale entiteit binne die Republiek of op enige ander erkende wyse."
Dit is teen hierdie agtergrond dat dit nodig is dat ons dit ons ten doel moet stel om ons talle minderhede se onsekerheid en onrustigheid by te lê. Dit moet ons bereik deur onder andere die volgende te doen:
Die grondwetlike bepalings in verband met taalregte moet stiptelike na letter en gees nagekom word, ook deur die SAUK. Dit moet ook neerslag vind in 'n meer gedetaileerde billike taalbeleid, wat sekerheid sal gee aan alle taalgroepe.
Ons onderwys moet so gestruktureer en bestuur word dat die basiese regte oor kultuurgebonde en taalgebonde onderwys ten volle verseker en moontlik gemaak word. Daar moet sterk opgetree word teen pogings om hierdie basiese reg te omseil of te ondermyn.
Die nuwe Grondwet moet by hernuwing en in nog duideliker terme volledig uitdrukking gee aan die beginsels oor minderheidsregte reeds daarin vervat en waarna ek verwys het.
Ten opsigte van al hierdie sake skep hierdie Kongres 'n geleentheid vir die onderwysgemeenskap om toe te tree; om duidelike uitsprake te doen; om standpunte te formuleer en meganismes in te stel om daardie standpunte be bevorder; om planne te beraam oor hoe die ruimte wat die Grondwet bied ten beste benut kan word.
Die Grondwet self het 'n kragtige meganisme geskep in die vorm van die Konstitusionele Hof. Het dit nie tyd geword vir die onderwysgemeenskap soos hier verteenwoordig - om 'n regskomitee te skep nie? So 'n meganisme, wat voldoende befonds word, kan verdienstelike sake aanhangig maak by die Kosntitusionele Hof en verseker dat ondermyning van die Grondwet in die kiem gesmoor word.
My beklemtoning van kulturele diversiteit moet nie verkeerd verstaan word nie. Daar is twee groot werklikhede in Suid-Afrika.
Ons diversiteit is een werklikheid wat nooit ontken kan word nie; wat neerslag moet vind in sekuriteit en geborgenheid vir al ons kultuurgroepe.
Die ander, ewe belangrike realiteit is dat ons almal - ons diversiteit ten spyt - baie in gemeen het. Ons staan voor dieselfde uitdagins en bedreigings. Ons het mekaar nodig. Ons is almal lotsgebonde Suid-Afrikaners. As nasie moet ons hande vat en verseker dat diversiteit nooit weer 'n verdelende faktor sal word wat neerslag vind in bitterheid, stryd en geweld nie. Ons het daarvan oorgenoeg gehad.
Hierdie twee werklikhede moet met mekaar versoen word. Ons met eenvoudig 'n brug bou tussen eenheid en verskeidenheid.
Mag hierdie Kongres se beraadslagings 'n reuse bydrae lewer tot die oprigting van 'n onderwyspilaar waarop so 'n brug stewig kan rus.
