INLEIDING
Die Vryheidsfront het die identiteit van 'n Volksparty - dit is gebore uit krisisomstandighede - uit die noodoomblikke van 'n volk.
Die party is: VIR DIE VOLK, UIT DIE VOLK EN TOT EER VAN GOD EN
UITBREIDING VAN SY KONINGKRYK OP AARDE.
Daarom wil ek vanaand, aan die begin van hierdie eerste kongres wat rigtingsoekend sal wees praat oor die party en die volk deur die volgende bestek te behandel.
Die krisis en die Volk.
'n Visie, 'n hoop, 'n koers na 'n bestemming.
Strategie in beplanning om by die bestemming aan te kom.
Die hervestiging van die wil om te oorleef.
DIE KRISIS EN DIE VOLK
Dit is nie vergesog om te sê dat toe die oomblik van waarheid van die eeu vir ons Afrikaners aangebreek het ten opsigte van die finalisering van die konstitusionele verhouding in hierdie heterogene en plurale land van ons, ons lampe sonder lampolie gevind was met ons rustig aan die slaap.
Daar was immers genoeg waarskuwing al van 1960 af. Daar was ook genoeg gevallestudies om vanuit te leer in Afrika en die wêreld. Die halfhartige eksperiment van die driekamerparlement was basies foutief want hoe kan 'n oplossing wat die grootste bevolkingsgroep uitlaat 'n hoop op sukses hê? Of was dit sulfhopnose wat toe al die dwaling van die illusie van Magsdeling as basis (of was dit 'n propagandabasis?) gebruik het byna soos 'n fopspeen wat 'n valse gerustheid in aanvaarding gebring het?
Die kenmerke van hierdie krisis was:
Politieke onbetrokkenheid van die volk en 'n blinde vertroue in the NP.
Die skos toe heirdie blinde vertroue in die Afrikaner se party van die eu, eenhonderd en tagtig grade omswaai onder die vae slagspreuk van hervorming en die volk los soos 'n warm patat ter wille van die steun van groter getalle van leders af.
Die tragedie van 'n konserwatiewe opposisie wat niks verder as kritiek geken het nie en in protes onttrek aan die enigste onderhandelingsforum waar die toekoms ook van die Afrikaner beslis was. Gekortwiek deur 'n politieke onbuigsaamheid om by die werklikhede van die Strategiese situasie aan tepas, dan finaal hom onttrek aan die politiek van die toekoms deur nie te stem nie, laat hierdie party die konserwatiewe spektrum van die Afrikaners sonder enige verteenwoordiging in die de facto regering van die land.
Die teleurstellende vertoning van die onderhandelaars in die Wêreldhandelsentrum wat die vermoë van die aanslag onderskat het en 'n onderhandelingsproses wat skaars minder as 'n beheersde rewolusie was. 'n Konstitusie waarin Afrikaneridenteit behoue sou kon bly is onder andere ook deur die NP as 'n deurbraak besing.
Die krisis het inderdaad die volk onseker, verdwaasd en meer verdeeld as ooit gelaat. Die byna wanhopige emosie dat die enigste oplossing in 'n geweldadige oorlog sou lê, het byna tot 'n slagting gely wat 'n slagting aan albei kante sou gewees het en nie net tot groot lewensverlies en skade sou gelei het nie, maar ook tot die finale vernietiging van enige hoop op verkryging van sekere konstitusionele voorsiening vir die Afrikaner vir die toekoms. Ons sou dan met die smet van brutale volksmoordenaars 'n veworpe spesie in die wêreld geword het.
Hierdie was die erfenis van die Vryheidsfront:
'n Situasie van volksdepressie en toe - toe niemand kans gesien het om as volksparty vir die Afrikanervolk weer die politieke rol te vervul nie, 'n rol in totale nuwe omstandighede, het 'n klein groepe verteenwoordigers van die Vryheidsfront die onmoontlike ongelyke geveg aangepak met 'n nuwe politieke visie en benadering.
Toe niemand meer hoop en moed gehad het op die bereiking van di ideaal wat ons so graag voor 27 April wou bereik het op vreedsame wyse nie, toe het dieselfde groepie Vryheidsfront-verteenwoordigers gesê - Ons gee nie op nie, ons sal aanhou tot ons slagg. Ons het gesê ons is bang vir niemand nie want ons saak is reg!. Die Vryheidsfront is 'n Volksparty!
VOLKSIDENTEIT EN DIE BEWARING DAARVAN - IS DIT ONS ERNS? VIR DIE VOLK UIT DIE VOLK.
Geagte Toehoorder, die vraag oor wie Afrikaners is en wie ons nou regtig in die VF moet verteenwoordig kom dikwels te sprake. Mnr FW de Klerk gee ongevraagde kritiek en raad wat eitnlik daarop gemik was om ons op hierdie kongres te verdeel en aan die veg te sit oor 'n oop of toe party. Maar as ons sê ons is 'n Volksparty, dan sou dit loon as ons baie goed hieroor besin en self seker wees daaroor.
'n Volk, soos ons Afrikanervolk, moet altyd 'n duidelik onderskeibare gemeenskap wees. Daar is algemene kenmerke wat volkskap aandui soos taal, kultuur, geskiedenis en die siening daarvan en 'n baie gelangrike aanduiding is 'n samehorigheid wat saam met 'n verbondenheid aan 'n gebied lei tot die sterk motiverende krag van vaderlandsliefde. Volksnasionalisme is dus die eindresultaat wat waarde heg aan die eie in 'n volk, dit wil behou en vertroetel en dit selfs sal verdedig as dit bedreig word. Dit bepaal die strewes van ons volk.
Let wel dat die begrip "Afrikaanssprekende gemeenskap" sekerlik 'n gemeenskap is maar veel losser is as die term Afrikanervolk omdat die volksolidariteit ontbreek veral vanweë die afwesigheid van die gemeenskaplike geskiedenis en vertolking daarvan.
Soms is dit moedwilligheid om die bestaan van die Afrikanervolk te bevraagteken en in die meeste gevalle word dit vir party politieke voordele gedoen. Dis ook nie nodig om uit 'n register volkskap te bewys nie want assosiasie met 'n volk is altyd op 'n vrywillige basis en dit word selfs gesê dat 'n volk in 'n mate oop is as gevolg van die vrywillige assosiasie wat sonder uitsondering gebaseer is op die emosionele aanvaardign van, en inskakeling by die onderskeibare kenmerke van die volk. Kom ons kyk vinnig na ons eie volk se kenmerke:
Ons het 'n taal, ons besing die taal, o moedertaal, o soetste taal jou het ek lief bo alles, en as ons taal bedreig word, kom ons in opstand want ons eie word bedreig. Verskeie taalmonumente is landwyd opgerig. 'n Taal wat al voorheen verneder en probeer vernietig was. Vanselfsprekend eis ons nie alleenreg op Afrikaans op nie en verwelkom ons bruin en swart mense se gebruik van Afrikaans en ons hoop dat hulle Afrikaans saam met ons sal verdedig soos trouens reeds gebeur.
Ons het 'n kultuur - 'n eie kenmerkende leefwyse wat onderskeidend is van ander groepe (ook van ader Afrikaanssprekende groepe), ons godsdienssin, ons liefde vir die grond, ons kultuur van Wet en Orde, dissipline en respek, gasvryheid en ja selfs on politieke verdeeldheid kenmerk ons. Ons kultuur van meer as driehonderd jaar is sigbaar in museums en monumente en ons krygskultuur spreek uit die talle slagvelde, monumente van boereburgers, 'n ryke krygsgeskiedenis en onsterflike roem.
Ons het ons eie geskeidenis wat ons erken en aan ons nageslag vertel. 'n Volk is sy geskiedenis. Ons bly vasgeheg aan ons verlede en voel gebonde aan 'n gelofte was ons voorouers in dae van groot benoudheid gemaak het. Ons geskiedenis lewe van sy pionierskarakter, van durf en moed, van die groot vryheidsdrang wat terugdateer na Vryburgerdae kort na volkstigting.
Samehorigheidsgevoel beteken nie die politieke eenvormigheid 'n voorvereiste is nie. Politieke verskille is deel van 'n stelse maar die byna onvolwasse politieke oorbeheptheid van die Afrikaner het 'n oorsaak.
Die politieke stelsel van die land is nie eie aan die Afrikaner nie. Dis geerf na die tweede Vryheidsoorlog. Samehorigheidsgevoel of nasionalisme kan met tye sluimerend wees. Sodra 'n bedreiging ontstaan, soos tans met die Afrikaner, ontvlam dit spontaan, al was daar 'n apatiese gees kort tevore. Dis volkskap!
Ons in die Vryheidsfront, uit die volk vir die volk bied 'n politieke voertuig aan vir volksgenote wat vrywillig assosieer met ons taal, ons kultuur, ons geskiedenis en wat 'n samehorigheidsgevoel ervaar. Dit spreek dan vanself dat Mnr de Klerk se party wat nie op Afrikanerbelange ingestel is nie sy ondersteuners oor 'n wyer front sal werf en dit is sy goeie reg. Om ons party te gebruik primêr vir Afrikanerbelange is ons goeie reg. Ons lees die politieke aanduidings dat soos onderdrukkings wat in die USSR verdwyn het, gelei het tot die groei van volksnasionalisme, dieselfde hier gaan gebeur. Dit wil sê as hier hopelik nie onderdrukkings daarvan deur oorsentralisasie en toepassing van uitgediende ideologie deur die meerderheid gaan toegelaat word nie.
Geagte Toehoorders, as ons die liefde vir eie bepleit, as ons die party bind tot bevordering van Afrikanerbelange, dan sal ons nie die fout maak deur ander groepe nie dieselfde te gun nie. Ons glo dat volksnasionalisme 'n gesonde krag is met motiveringswaarde en sal graag op federale basis met sulke groepe saamwerk om te waak teen die vernietigende krag wat onbeheersde volksnasionalismes kan ontketen as dit nie demokraties konstitusioneel voor voorsien word nie. Volksnasionalisme kan nie weggewens word nie - dit moet kosntitutsioneel ingebind en bestuur word.
Geagte Kongresganger, u het gehoor van ons volksidentiteit. Dit is nou vir my belangrik dat ek 'n strategiese riglyn probeer neerlê waaraan hierdie kongres behoort aandag te gee. Dit is: Laat ons bymekaar maak wat inherent bymekaar hoort (Dr DF Malan)
Dit impliseer:
Dat ons moet aanvaar dat die volk nie beperk is tot een politieke party nie.
Dat ons volwasse in ons benadering moet wees en bereid moet wees om oor volksake soos selfbeskikking om 'n tafel te sit. Dit verg groter verdraagsaamheid van almal en neutraliseer die haat teen Afrikaners wat soms by ander groepe bestaan.
Dat ons politieke partye nie kultuurorganisasies moet probeer oorheers of probeer beheer nie en geen obstruksie mag wees op die pad na kulturele groei nie.
Dat kultuurorganisasies nie party polities gekleurd moet raak nie en liefs in die kultuur alleen aktief moet wees.
Hierdie party se beleid is dus duidelik. Ons beywer ons tans vir ons eie mense. Ons wil nie, in 'n poging om alles vir almal te wees, of te bereik, later sukkel om iets vir iemand te beteken nie. Die groter rol as waardige Afrikaner element in die groter landspolitiek kan so beter gedoen word deur reguit eerlike grope tot groep verhoudinge. In elke geval is die getalle oorheersing so danig dat enige politieke oorwinning oor die huidige ANC meerderheid wensdenkery is. Daar moet binne die raamwerk van selfbeskikking vir ons volkwees geskep word.
'N VISIE, 'N HOOP, KOERS NA 'N BESTEMMING
As ons identiteit verstaan, dit is 'n gegewe tans, en die rol aanvaar soos ek in die eerste strategiese riglyn neergelê het, dan kort daar 'n nuwe visie om hoop vir en koers na 'n bestemming te gee. Die volgende faktore word baie vinnig genoem wat betrekking het:
Die huidige getalle oorwig en die voorspelde groei in die nuwe Suid-Afrika is 'n verdoemende situasie soos uit die Groenskrif oor bevolkingsontwikkeling blyk. Met reeds meer as 43 miljoen mense word verwag dat oor dertig jaar dit sal verdubbel. Die politieke meerderheidssituasie blyk dus onomkeerbaar en die rewolusionêre momentum sal heel waarskynlik min ruimte vir die Afrikaner laat. Die vergelyking van die groeikoerse van bevolkingsgroepe toon duidelik dat die Afrikaner se politieke verhouding wat getalle betref drasties sal versleg. Op die koop toe stroom Afrikan na Suid-Afrika in groot getalle. Ons word bedreig deur verswelging. Vandaar dat ons eie ruimte of ruimtes moet beding op alle vlakke van regering.
Die reënboognasie teorie, die hoop op kitsbou van 'n nuwe geintegreerde nasie bestaan reeds. Die kulkturele verskille is myns insiens daarvoor te groot en die Afrikaner ervaar reeds vervreemding op baie terreine:
Wet en order en 'n slap Polisiemag
Taalvergruising en vervanging
Pornografie en dobbelary
Stakings in polisie en hospitale
Afkraking van die Afrikanerbeeld
Toenemende geweld ens, ens - Ons kultuur is op verdediging
Ekonomiese groeimoontlikhede verdof. Net om bevolkingsgroei te neutraliseer beweer Minister AB Williams dat 'n groei van 6% daarvoor nodig is.Dit is tans ongeveer 2%. Dit te midde van 'n werkloosheidssituasie van bykans 50%. Voeg hierby die val in beleggingsvertroue (hoofsaaklik vanweë onstabiliteit) wat Suid-Afrika baie laag op die wêreldlys plaas dan is dit duidelik dat ekonomiese agteruitgang vir die volgende paar jaar ons voorland is. Die wêreldtendens ens is om eerder te onttrek van Afrika.
Hiermee saam moet regstellende aksie se uitwerking genoem word. Sonder om in te gaan in die moontlikhede dat die konstitusionele bepalings rassisme inderdaad kan bevorder moet veral twee uitwerkings daarvan in ag geneem word.:
Dit is die Afrikaner in sy tradisionele werkvelde wat die hardste getref gaan word - die staatsdiens, weermag, polisie en openbare dienste ens ens. Die volle impak van hierdie tegniek gaan nog ons volk mettertyd tref.
Die wyse van toepassing van die tegniek gaan 'n insinking in produktiwiteit in Suid-Afrika tot gevolg hê in die openbare sektor en besigheidsektore waar meriete aanstellings plek maak vir regstellende aksie aanstellings. Daar is nie veel wat hieraan gedoen kan word nie - veral omdat dit in Kempton Park konstitusioneel vasgelê is. Die meerderheid regeer en is vry om die konstitusionele toepassings toe te pas soos dit hulle pas.
'n Aantal afleidings kan uit bogenoemde faktore wat 'n werklikheid, 'n gegewe is, gemaak word. Kom ons kyk eers ekonomies:
Ons volk moet weet wat kom.
Ons moet beplanning doen en voorbereid wees.
Die Afrikaner is onmisbaar ingeweef met die ekonomie van groter Suid-Afrika. Al sou hy wil kan hy hom nie nou losmaak daarvan sonder katastrofiese ekonomiese gevolge vir homself en vir groter Suid-Afrika nie. Ekonomiese stabiliteit is in almal se voordeel.
Net 'n wonderwerk van 'n ekonomiese oplewing kan die situasie red.
Groot getalle boere, staatsamptenare, polisiemanne en ander Afrikaners gaan werkloos raak en dit onmoontlik vind om werk te kry sonder om 'n beroepsaanpassing te maak weg van kripwerkies na private ondernemings.
Die surplus bronne van entrepreneurs sal tot voordeel van onsself en tot voordeel van Suid-Afrika aangewnd moet word maar die ekonomiese groeipotensiaal binnelands gaan so 'n idee kelder. Die dreinering van breinkrag deur emigrasie is ooglopend uit ons eie volk se oogpunt asook streeksverband, onwenslik.
Die oorskot van entrepreneurs is waarskynlik aanwendbaar as ekonomiese ontwikkeling in streekverband in Suider-Afrika gelyktydig met Suid-Afrika aangepak word. Studies en besoeke het getoon dat:
Suider-Afrika die potensiaal het van bronne, maar kortskiet aan kennis en ondernemers.
Suider-Afrika state oor die lagemeen die les geleer het dat sosialistiese ekonomiese beleid nie kos en ontwikkeling bring nie en is daarom meer krities ten aansien van staatsbeheer oor ekonomie.
Suider-Afrika 'n groot nood het en wonderbaarlik die moontlikheid van hulp van Afrikanerentrepreneurs verwelkom omdat volgens hulle die Afrikaner inheems is tot Afrika, die inwoners van Afrika ken en, en 'n bewese pioniersprestasie het. Die positiewe bydra van die Afrikaner geniet hier erkenning - hy word nie net met die modder van apartheid gegooi nie.
Die grootskaalse politieke ideologiese botsings in Suider-Afrika aan die uitsterf is - kolonialisme en Sowjet Ekspansionisme. Daarby is die vordering met konflikoplossing loop baie minder in daardie state as in Suid-Afrika. Ekonomiese ontwikkeling word 'n voertuig vir streekssamewerkings in plaas van konflikte van weleer.
Daar skyn 'n belangstelling by hulpverlenende instansies van die wêreld te wees om in ontwikkeling te belê veral as versekerde suksesprojecte voorgelê word wat seker bronne het, bewese markte, ondernemers wat agtergrond en goeie beher oor finansies steun.
Deur ontwikkeling in Suider-Afrika te stimuleer behoort die onbeheerbare toevloei van onwettige immigrante na Suid-Afrika af te weer wat verseker groot waarde inhou vir die Regering van ekonomie van die streek aan die gang te sit om as skokbreker te dien vir die rowwe pad wat Suid-Afrika nog gaan aandurf maar indien dit 'n uitvoerbare suksesstorie gemaak kan word, mag dit die uiteindelike oplossing vir talle politieke, staatkundige, ekonomiese en selfs etniese probleme wees in streeksverband. Natuurlik sal besondere aandag gegee moet word aan bemarking van die idee binne Afrikanerverband en ook internasionaal. Dit wat die ekonomie betref.
Kultureel kan uit die faktore ook afleidings gemaak word. Die immerstygende getalle oorwig teen ons Afrikaners maak van ons in hierdie land 'n permanente minderheidsgroep wat kultureel kwesbaar is veral as die voorgaande steuning oor die eise van ekonomiese oorlewing in ag geneem word. Die probleem is al reeds die yl verspreiding van die ekonomiese onmisbare Afrikaner entrepreneur en reeds met die binnelandse situasie is die Afrikaner se strewe na 'n Volkstaat sterk. Nou sal 'n ekonomiese rol in Suider-Afrika sake nog verder bemoeilik want groter verspreiding bring orals groter verknorsing en dus bedreiging van kultuur mee. Hier is sonder twyfel 'n konflik wat ernstige oorweging genoodsaak het want tussen die eise van die ekonomiese visie, die beperkte moontlikhede van kulturele selfbeskikking en die territoriale konsep van selfbeskikking in 'n Volkstaat moet 'n balans gevind word wat Afrikanerselfbeskikking aantreklik maak vir die nuwe Suid-Afrika, aanvaarbaar in wêreldverband en tog vir die Afrikaner kultuuroorlewing verseker.
Die vraag is kompleks. As ons kinders soos tans oorsee emigreer omdat hier nie ekonomiese bestaansruimte gebied word nie, is hulle vir ons volk verlore. Nog erger as baie ekonomies lewenskragtige burgers besluit om soos die Argentynse boere te verhuis na die vreemde, (en dit gebeur reeds) is dit 'n onvervangbare verlies. Eending is duidelik uit ons hele geskiedenis - die Afrikaner trek agter die lewensmoontlikhede en vrede aan en sal nie vrywillig verarm self nie vir die ideaal van 'n Volkstaat nie. Daar mag seker uitsonderings wees. Ons moet dus prioritiet aandag daaraan gee dat die arm blanke vraagstukke van die dertigerjare nie weer ontstaan nie. Ons moet vooruit beplan vir 'n ekonomies lewenskragtige volk. Geleenthede moet geskep word, maar, indien moontlik in die streeksverband in Suidelik-Afrika waar ons mense gekonsolideer is en waar ons toekoms lê as volk.
Verder weet die Afrikaner dat waar hy reeds sy politieke gesag afgestaan het en niks, nie eers Mnr de Klerk se vae wigte en teenwigte oor het nie, is 'n onmisbaarheid as ekonomiese entrepreneur naas konstitusionele selfbeskikking 'n alternatief wat 'n waardige volksbeeld sal verseker. Onder die huidige omstandighede is dit vir ons selfbeeld nodig sodat ons die toekoms met vertroue kan tegemoet gaan.
In die geval van plurale gemengede distrikte is daar sekere regeringsfunksies wat 'n direkte invloed het op die identiteit en die behoud van die besondere waardes van ultuurgemeenskappe. Sommige kultuurgemeenskappe mag verkies om kultureel te integreer, ander weer, soos ons, sou verkies om institusionele beheer te hê oro sodanige identiteitsvormende funksies. Die beginsel is dan dat die gemeeenskaplike funksies gesamentlik met die ander kultuurgemeenskappe bestuur word. Die funksies vir eie bestuur sal moet onderwys insluit want die Afrikaanse kultuur word in die kind gevorm deur kerk en skool buite gesinsverband. Daarsonder en veral waar ons soos in die huidige oorgangsproses blykbaar alle beheer oor onderwys prysgee soos skole integrasie vorder gaan die volgende geslag ons kultuur begin verloor. Die visie sluit dus in Afrikanerrade by elke gemeenskap waar nou vrywille bewaring van die kultuureie 'n behoefte is wat hierdie kultuur funksies beheer - kulturele selfregering tot in die uithoeke raak selfs Afrikalande waar ons ekonomiese visie ons neem. Kulturele koördinaise en rigtinggewing sal dan geskied by wyse van skakeling met die Volkstaat as kulturele basis - die hart wat die kultuurbloed uitpomp na gedesentraliseerde gemeenskappe.
Geagte Toehoorder, ek het vir u die algemene visie geskets van die beste oorlewingshoop vir die Afrikaner. Dit sluit in ekonomiese sienings en kulturele voortbestaan deur die selfbeskikkingsbeginsel vir sy tussenvermoë. Dit sou onwys wees om in hierdie kongres in te veel besonderhede te argumenteer want die Volkstaatraad se voorstelle moet bestudeer word en nog onderhandel word. Die vloeibaarheid van die huidige situasie en veral die groot aantal belanghebbendes wat in die gees van die groter demokraise geraadpleeg moet word verg 'n aanpasbare soepelheid wat van 'n politieke party dieselfde eis.
STRATEGIE EN PLANNE
Daar is drie primêre doelwitte wat bereik moet word en waarvoor die VF homself beywer naamlik ekonomiese aanpassing en ontwikekling, politieke selfbeskikking in 'n Volkstaat en derdens kulturele selfbeskikking.
EKONOMIESE AANPASSING EN ONTWIKKELING
Eerstens moet ons Afrikaners rigting gegee word om ekonomies weg te swaai van vorige tradisionele werksvelde na die rol van entrepreneurs. Dit sal grootliks help om die werkskonflik wat voortspruit uit regstellende aksie te neutraliseer. Hiervoor moet saam met belangegroepe 'n deeglike studie en beplanning van stapel gestuur word. Heropleiding mag nodig wees en koördinasie met HOP beplanning sal nodig wees.
Die konsep om algemene ekonomiese herlewing vir Suider-Afrika af te skop deur landbou-aktiwiteite moet vinnig ontwikkel word. Dit behels:
Identifisering van landbourprojekte wat die ontplooiing van Afrikaner gemeenskappe in groeipunte wat kulturele ondersteuning soos skole sal insluit moontlik sal maak.
Die reël van finansiering deur donateurlande.
Die stigting van 'n beheerliggaam wat die Suid-Afrikaanse regering die gasheerlande, donateurinstansies en die betrokke Suid-Afrikaanse Landbou Unies sal insluit om die uitvoering te monitor en te beheer.
Soos die Landbouontwikkeling vorder moet entrepreneursgeleenthede in ander rigtings identifiseer word vir ontginning saam met die gasheerlande sodat almal voordeel daaruit sal put. Dink aan infrastruktuurontwikkeling, landbou verwante bedrywe en algemene besigheid en toerisme. Vanselfsprekend sal hierdie ontwikkeling op 'n gesamentlike basis plaasvind sodat die potensiaal van burgers van die gasheerlande ontwikkel word.
Die Vryheidsfront het die politieke fasette van die Afrika projek saam met die Landbou Unies onderneem. Die ekonomiese herstrukturering van ons Afrikaners is te groot vir die Vryheidsfront alleen en 'n liggaam soos die van Reddingsdaadbond moet waarskynlik geïnisieer word en word in die vooruitsig gestel. Dit sal ook meer algemene deelname verseker.
Strategiese en beplanning ten opsigte van die twee vorme van selfbeskikking sluit in:
Bestudering van die Volkstaatraadverslag en skakeling met ander aprtye en organisasies om groter Afrikanerbetrokkenheid te verkry.
Bilaterale onderhandelings met veral die ANC maar ook ander partye en provinsiale regerings om steun te werf.
Konstitusionele uitvoering van die planne in die Grondwetskrywende vergadering en as vroeë aanvaarding verkry word kan die proses selfs in werking gestel word om vervroegde uitvoering te gee aan die voorstelle.
Geagte Kongresgangers, hierdie drie primêre doelwitte is volksake, nie partysake alleen nie. Dis ook nie sake waaroor ons net in die Parlement kan praat nie, daar moet dade volg.
'n Sekondêre doelwit wat byna so belangrik soos die primêre doelwit is, is die heropbou van die Afrikaner se beeld by onsself, binne die nuwe Suid-Afrika en internasionaal. Ons beeld was geknak. Die skade wat die rewolusionêre stryd sielkundig aan ons volk aangerig het en nog steeds poog om ons af te kraak en met skuldgevoel te oorlaai, is, reg of verkeerd, verdiend of onverdiend, 'n saak wat regstelling verg. Die volgende sake kan hier uitgelig word:
Die afweer van 'n oorlog of slagting in April 1994 is tot ons krediet. Dit het vreedsame oorgang moontlik gemaak en 'n stryd wat moontlik in elk geval futiel kon gewees het, vermy.
Die vreedsame wyse waarop die Afrikaner sy selfbeskikkingsaak vir 'n jaar lank ondersoek het en die gehalte werk wat die Vokstaatraad gelewer het strek ons tot eer.
Die wyse waarop die Vryheidsfront die moeilike nuwe rol in die nuwe parlementêre kultuur gespreek het, het respek afgedwing.
Die bereidwilligheid van die Afrikaner om positief by ontwikkeling in Suid-Afrika 'n leidende rol te speel om 'n groot leemte te vul, het wêreldwyd 'n gunstige beeld geskep en binne Afrika groot aanvaarding bewerkstellig. Die Afrikaner begin om uit die omhulsel van apartheidshaat (reg of verkeerd maak nie saak nie) 'n nuwe beeld van waardigheid en selfs onmisbaarheid te skep. Dis 'n vorm van offensief wat 'n beter verdediging is as 'n groot lawaai en kragtige uitlatings oor 'n aanslag wat nou in felheid toeneem. Daar is plek vir die Afrikaner en natuurlik ander kultuurgroepe om 'n gewaardeerde nuttige rol met die volle behoud van os eie waarvoor ons lief is. Dit is nie 'n voorvereiste om soos die NP jou eie te verloën om meer getalle bymekaar te maak nie. Dit bring my by die laaste gedagte en dit gaan oor die skep van en behoud van die wil om te oorleef.
SKEP VAN EN BEHOUD VAN WILSKRAG
Dit is heel verstaanbaar dat die Afrikanervolk gedemoraliseerd mag wees en soos in Namibië en Zimbabwe ontrekkingssimptome toon weg van Volksnasionalisme. Soos ek reeds vir u aangetoon het is dit nie nodig nie en ook nie wenslik nie. Rigtingloosheid, verdeeldheid en die onderlinge selfmoordgeveg is hiervoor verantwoordelik.
Mnr de Klerk moet nie ons bereidwilligheid om van tyd tot tyd oor gemeenskaplike sake te praat verkeerd vertolk nie. Die NP het nie 'n sppor gelaat wat ons wil volg nie - behalwe om op hom jag te maak! Nou weer het die NP die Afrikaner oor sekere sake soos die Waarheidskommissie in die steek gelaat. Nee ons stel nie belang om deur 'n our uitgediende draak ingesluk te word nie. Maar ons erken dat daar 'n sekere spektrum Afrikaners nog op grondvlak is wat miskien nou ontnugter is, wat selfs nog hoop Mnr de Klerk sal die haas uit die hoed uithaal. Daardie mense moet nie vir ons volk verlore gaan nie. Ons verhouding met die NP is uit politieke volwassenheid gebore en word genoodsaak omdat daar op grondvalk 'n oplewing is van Afrikanerskap wat ondanks partyverskille vir oorlewing wil saamstaan.
Vir die Konserwatiewe Party wil ons sê dat ons glo dat u 'n fout gemaak het maar verwelkom u hertoetrede tot die Afrikanerpolitiek. Daar is in konserwatisme 'n groot rol om te speel in die nuwe Suid Afrika. Laat ons gesond kompeteer met mekaar want die bestaan van die twee partye is nou 'n feit en het ontstaan uit 'n sekere stel omstandighede. Van ons kant af was ons nie soos dikwels van KP kant af venynig nie. Die belang van die volk word nie daardeur gedien nie.
Ons verhouding met die ANC. Die VF het besluit tot deelname aan die verkiesing en aan die regering na 9 maande bilaterale samesprekings met die leiers van die ANC. Tydens hierdie samesprekings het ons op bilateral vlak probeer om wat duidelik agterweë gebly het in die Kempton Parkse konferensie reg te stel. Ons het beding oor selfbeskikking vir die Afrikaner. En ons het 'n ooreenkoms daaroor bereik wat op 23 April 1994 onderteken is. Uti hierdie onderhandelings het belangrike konstitusionele wysigings voortgespruit waarvoor ons meer geredelik steun van die ANC gekry het as van die NP. Daaruit het ook die Volkstaatraad voorgespruit, wat eersdaags hulle verslag oor 'n Afrikanervolkstaat vrystel. Hierdie raad het as statutêre liggaam sy werk gedoen en is deur die regering finansieël gedra sonder dat daar enige inmening of beïnvloeding was. Ons betreur dit dat die NP na sy mislukkings op Kempton Park hieraan nie wou deelneem nie. Ons doen 'n beroep op hulle om die verslag van die raad die oorweging te gee wat hulle eie ondersteuners van hulle verwag. Daar was mense van die KP wat deelgeneem het maar amptelik het die party dit maar weer geboikot. Ek hoop dat ook hulle nou konstruktief sal deelneem aan die oorweging van die verslag - t.w.v. die Afrikaner. Ek noem hierdie dinge omdat ons kennis moet neem van die steun wat in hierdie verband van die ANC leierskap gekom het - met meer groothartigheid en versiendheid as sekere tradisionele Afrikanerpartye. Ons het 'n ooreenkoms met die ANC oor Afrikaner selfbeskikking en dit is daarop wat ons verhouding met hulle gegrond is. Ons verhouding met hulle is ondubbelsinnig, eerlik en gegrond op wedersydse respek. Ons is oortuig daarvan dat hierdie houding die tradisionele Afrikaner karakter verteenwoordig en vra dus daarvoor nie verskoning nie. Ek dink ons het 'n konstruktiewe werkverhouding met die ANC ontwikkel omdat ons die belange van die land en ook van die Afrikanervolk stel bo die van enige politieke party. Ons sal op hierdie pad voortgaan in die toekoms en die groot meerderheid van regdenkende Afrikaners sal ons daarin steun as ons saam 'n aanvaarbare toekoms vir alle Afrikaners probeer uitwerk, en daarby die basis lê vir versoening en naasbestaan van almal in hierdie deel van die wêreld.
Rigtingsloosheid en planloosheid is 'n groot oorsaak van insinking en kan vererger soos die fisiese aanslag teen ons mense toeneem op ekonomiese en sielkundige gebied. Die VF het planne en u het vanaand lank daarna geluister. As enigiemand beter planne het, sê vir ons want ons is buigsaam. So nie steun ons om die planne bekend te maak en dit uit te voer.
Kommunikasie as VF is afhanklik van partystrukture. Sonder kommunikasie is daar 'n insinking van moreel. Partystrukture moet dus vinnig gefinaliseer word en uitgebou word sodat beter met die volk gedagtes gewissel kan word en ons algemene finansiële vermoë so uitgebou word dat beter kommunikasiemiddels bekostig kan word.
Geagte Kongresgangers, met hierdie aansluting van ons strategie en denke is dit vir my 'n groot genoeë om die kongres geopen te verklaar. Laat ons vryelik luister en praat sodat ons kan hoor en dan oorweeg in die besluitnemingsproses wat by ons Federale Raad sal plaasvind.
Net 'n paar woorde oor my posisie as Leier want soms kom ek dit teë dat die mense onseker is omdat hulle weet dat ek terughunker na my beeste toe. Dit is natuurlik so - ek is nie 'n natuurlike langtermyn beroepspolitikus nie. Maar ek het die uitdaging aanvaar nadat ek gevra was deur ons mense. Ek het 'n leeftyd van militêre oriëntasie agter my en is opgelei om nie oor te gee nie. Dit is my doel om hierdie stryd te wen omdat ons staan in die kulminasie van die Afrikanervolk se naasbestaanstryd. Ek glo die Afrikanerkultuur en die kultuur van tradisionele swart mense is versoenbaar en die oplossing lê nie in geweld nie maar in sinvolle konstitusionele reëlings en wedersydse respek. Vir baie land worstel ons teen groot oormagte vir wie ons steeds hul eie gun maar nie ten koste van ons eie nie. Hierdie oormagte gaan groter word. Natuurlik het ek my eie styl en karakter want ek glo aan takvolle medemenslikheid, opregte en eerlike politiek en 'n goeie saak wat opreg en geregtigheid gegrond is.
Daar is werk - laat ons dit doen. Ek dank u.
