Dit is vir die Provinsie van die Wes-Kaap 'n voorreg om die gasheerprovinsie te wees vir die tweede Nasionale Khoisan Oorlegplegende Konferensie in die geskiedenis van Suid-Afrika. Veral aangesien die konferensie ten tye van die Verenigde Nasies se dekade vir inheemse volkere plaasvind.
Die Konferensie is onder andere daarop gemik om die rol van die Khoisan identiteit binne die nasionale konteks van eenheid in diversiteit te definieer. Op sy beurt kan dit 'n belangrike rol in die vorming van 'n nuwe Suid-Afrikaanse nasie speel. 'n Suid-Afrikaanse nasie waar elke individu uit 'n gevoel van trots op sy of haar eie identiteit 'n unieke bydrae kan lewer tot nasiebou en versoening en deel kan hê aan die Afrika Renaissance.
Deur 'n finansiële bydrae te lewer tot die verwesenliking van hierdie konferensie, maak die Provinsiale Regering van die Wes-Kaap voorsiening vir die behoeftes van die meerderheid van die inwoners van die Wes-Kaap Provinsie wat op 'n Khoisan-erfenis aanspraak kan maak.
Die Provinsiale Regering se bystand in dié verband dien ook as 'n erkenning dat die Khoisan-erfenis van die inwoners van die Wes-Kaap in die verlede gemarginaliseerd is. Om hierdie rede is dit verblydend om te sien dat soveel inwoners van die Wes-Kaap aktief by hierdie inisiatief betrokke is.
Die Provinsiale Regering is vir 'n geruime tyd al betrokke by Khoisan-aangeleenthede. Onder andere het die Wes-Kaapse Kultuurkommissie finansiële bystand verleen vir die Nau-seremonie wat verlede jaar hier in Oudtshoorn gehou is. Verder is daar ook fondse beskikbaar gestel vir die navorsing wat deur die Instituut vir Historiese Navorsing van die Universiteit van Wes-Kaapland onderneem word na die identiteit van afstammelinge van die Khoisan en slawe.
Ook die Wes-Kaapse Taalkomitee het in November verlede jaar 'n werkswinkel vir 'n bewussynsveldtog vir Khoisan-tale in die provinsie gehou. Die Provinsiale Regering van die Wes-Kaap verbind homself om op hierdie wyse die bevordering, bewaring en ontwikkeling van die Khoisan-erfenis van die inwoners van die provinsie binne die bestaande wetlike raamwerk aan te moedig. Deur middel van die samewerking wat reeds bestaan tussen die Provinsiale Regering en die betrokke stamhuise, wil ons die vennootskap opbou sodat dit tot groter voordeel van die inwoners van die Wes-Kaap en van ons land sal strek.
Ek wil u dus vriendelik nooi om na afloop van die konferensie, vir my die resolusies wat ten tye van die konferensie geneem is, te laat kry. Dit is net wanneer ons van mekaar se verwagtinge en doelwitte bewus is dat ons 'n gesamentlike toekomsvisie daar kan stel en die bestaande werksverhouding tussen die betrokke stamhuise en die Provinsiale Regering uit kan brei.
Namens die Wes-Kaapse Regering wens ek u alle sterkte toe met die konferensie en kom veilig tuis.
PREMIER VAN DIE WES-KAAP PROVINSIE
